Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Japannese stede keer Spele rug toe

Dosyne Japannese stede het hul planne om atlete gedurende vanjaar se Olimpiese Spele te huisves laat vaar, weens kommer dat dit hul mediese hulpbronne tot breekpunt sal strek in ’n vierde golf van Covid-19-infeksies.

Japan se Nikkei-koerant het Donderdag berig dat 40 van die meer as 500 stede wat geregistreer het om atlete te huisves nou daarteen besluit het om gasheer vir oefenkampe en vir kulturele uitruilgeleenthede in die aanloop tot die skouspel te speel.

Japannese hou vroeër vandeesweek in Fukoeoka plakkate op in protes teen die Olimpiese Spele. Foto: Getty Images

Dit is onder normale omstandighede ’n bron van trots vir dorpe en stede buite die gasheerstad om besoekende atlete te verwelkom, maar in Japan is daar groot besorgdheid oor die skedulering van die Tokio-Spele midde-in ’n pandemie.

Die Spele is reeds verlede jaar uitgestel. Dit is geskeduleer om vanjaar van 23 Julie tot 8 Augustus plaas te vind, ondanks ’n styging in Japan se Covid-19-gevalle en ’n noodtoestand in Tokio.

Onder die ander streke wat hard deur die virus geslaan is, tel die oosterse prefektuur Tsjiba, waar die Amerikaanse atletiekspan ’n oefenkamp sou hê. Die prefektuur het Woensdag die kansellering van daardie planne aangekondig.

Tosjihito Koemagai, goewerneur van Tsjiba, sê hulle kan nie hospitaalbeddens vir atlete waarborg nie omdat atlete nie voorkeurbehandeling sal ontvang nie.

“Die Tsjiba-prefektuur oorweeg nie om skaars hospitaalbeddens ten koste van ons inwoners te waarborg vir atlete en mense betrokke by die Olimpiese Spele nie,” sê Koemagai.

Sjiro Hasegawa, ’n beampte in die stad Okoeizoemo, sê dit was nie meer vir hulle moontlik om Indië se hokkiespanne vir ’n oefenkamp te verwelkom nie.

“Daar is kwessies rakende tyd en koste en dit is onmoontlik om enige interaksie tussen inwoners en atlete te hê,” verduidelik hy.

Buitelandse atlete sal volgens die Jomioeri-koerant ook nie meer aan ’n toetsbyeenkoms vir die Olimpiese BMX-kompetisie kan deelneem nie.

Sommige munisipaliteite het hul kommer uitgespreek oor hoe Japan se mediese stelsel sal vaar as die Spele tot ’n ontploffing van Covid-19-gevalle lei. Dis sorge wat deur Sjigeroe Omi, Japan se voorste mediese raadgewer, gedeel word.

“Dit is uiters belangrik om te evalueer hoe ’n groot las daar op die mediese stelsel sal wees,” het Omi, wat al verlede maand sy kommer uitgespreek het, Donderdag gesê.

Die Amerikaanse Meesterskampioen, Hideki Matsuyama, is die jongste Japannese sportster wat sy kommer oor die aanbied van vanjaar se Olimpiese Spele uitgespreek het. Foto: Getty Images

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het steeds Woensdag gesê hy steun die stappe wat Japan neem om Covid-19 te beveg en is vol vertroue dat die Tokio-Spele ’n geskiedkundige gebeurtenis sal wees.

In die gasheerland groei teenstand vir die Spele ondanks die IOK se paaiery egter flink, terwyl die land sukkel om nuwe infeksies wat hul mediese geriewe en personeel tot hul uiterste beproef, te verminder.

’n Paar van Japan se hoëprofielatlete het ook nou begin bevraagteken of die Spele moet voortgaan.

Die tennisspeler Naomi Osaka het vroeër vandeesweek kommer daaroor uitgespreek en Hideki Matsuyama, die Amerikaanse Meesters-gholfkampioen, het Woensdag gesê hy het “gemengde gevoelens daaroor”.

“Japan het nou ’n klomp nuwe infeksies en gaan deur ’n moeilike tyd, so ek kan my nie indink dat daar net blindelings na die Spele toe voortgebeur word nie,” sê Matsuyama.

Die regering is reeds gekritiseer omdat hy nie swaar genoeg inperkings ingestel het nie en omdat hy kleitrap met die toediening van inentings. Net 2,8% van sy bevolking is tot dusver ingeënt.

Tog is Japan bereid om inentings vir ongeveer 2 500 Olimpiese en Paralimpiese atlete en ondersteuningswerkers aan te bied.

Japan het Woensdag meer as 7 000 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld, met 969 daarvan in Tokio.

Donderdag is ’n rekord van 712 nuwe gevalle aangemeld in die noordelike prefektuur van Hokkaido, waar die Olimpiese marathon sal plaasvind. – Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Iok  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.