Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Kameras, horlosies ‘koop’ IOK se guns

’n Japannese sakeman het miljoene dollars van die Tokio 2020-bodkomitee ontvang om in 2013 vlerk te sleep by Olimpiese grootkoppe wat kon verseker dat die Spele vir Japan gegee word.

Wêreldatletiek se voormalige grootbaas, Lamine Diack, is volgens ’n Japannese sakeman oorval met digitale kameras en duur horlosies om die Olimpiese Spele aan Tokio te help toeken. Foto: Getty Images

Haroejoeki Takahasji, ’n voormalige werknemer van die advertensie-agentskap Dentsu Inc., is volgens finansiële rekords wat Reuters onder oë gehad het $8,2 miljoen (R148 miljoen) betaal om onder meer die IOK-raadslid Lamine Diack in sy sak te kry.

Diack was van 1999 tot 2015 die president van atletiek se moederligaam, die IAAF.

Takahasji beweer hy het Diack met geskenke oorval, onder meer digitale kameras en ’n Seiko-horlosie.

“Hulle is goedkoop,” het hy van die IOK-raadslede gesê.

Takahashi (75) het meer geld as enige ander individu gekry by die Tokio-bodkomitee, wat meestal befonds is deur Japanse maatskappye. Die sakeman is later ook ingesluit by die organiseringskomitee wat die Spele reël.

Hy sê hy is betrek deur die bodkomitee se voormalige hoof, Tsoenekazu Takeda, wat sy pos as hoof van die Japanse Olimpiese komitee in 2019 verlaat het oor bewerings van korrupsie, aangesê om figure soos Diack te teiken en via ’n maatskappy genaamd Commons Inc. deur die bodkomitee betaal om mense wat die Tokio-bod kon help slaag, te vermaak en trakteer.

Die Japannees wou nie volledig verslag doen hoe hy die geld wat hy van die bodkomitee gekry het, bestee het nie. Hy sê sy taak was om Diack aan te moedig om Tokio se bod te ondersteun, maar ontken dat daar iets onderduims aan was.

Volgens Takahasji was dit normaal om geskenke uit te deel.

Tsoenekazu Takeda, wat in 2019 as uitvoerende hoof van die Japanse Olimpiese Komitee bedank het weens bewerings van korrupsie. Foto: Getty Images

“Jy het nie met leë hande na (IOK-raadslede) gegaan nie,” het Takahasji aan Reuters gesê. “Dis net logika.”

Die bodkomitee se bankrekords toon dat Seiko-horlosies vir sowat $46 500 (R838 000) aangekoop is. ’n Senior beampte betrokke by die bod het aan Reuters gesê ‘goeie’ horlosies is by partytjies uitgedeel, hoewel hy nie die handelsmerk gespesifiseer het nie.

Regulasies van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het nie ten tyde van die 2020-bod die oorhandiging van geskenke verbied nie, en ook nie ’n perk geplaas op die geldwaarde van sulke geskenke nie.

Diack het volgens ’n Senegalese fluitjieblaser ’n dag voor die stemmingsproses waarmee die 2020-gasheer bepaal sou word, aan ’n groep Olimpiese rolspelers van Afrika gesê hy beplan om “op meriete” vir Tokio te stem.

Die bankrekords wat Reuters gesien het, is deur die Japanse regering verskaf aan Franse aanklaers. In Frankryk is daar ’n ondersoek aan die gang om te bepaal of die bodkomitee via ’n Singapoer-konsultant $2,3 miljoen betaal het om Diack vir Tokio te laat stem.

Diack (86) het deurgaans ontken dat hy iets verkeerd gedoen het. Sy prokureur sê Diack “ontken alle aantygings van omkopery”.

Die Franse aanklaers ondersoek ook Diack se seun, Papa Massata Diack. Hy word daarvan verdink dat hy die geld van die Singapoer-konsultant ontvang en oorbetaal het vir sy pa. Ook Diack jnr. ontken dat hy oortree het.

Diack snr. is ook voorheen daarvan beskuldig dat hy $2 miljoen (R36 miljoen) ontvang het om stemme te help insamel vir Rio de Janeiro om die Spele van 2016 aan te bied. Hy is reeds sedert 2015 onder huisarres nadat hy aangekla is van korrupsie rondom die stryd teen verbode middels. – Reuters

Meer oor:  Tokio  |  Lamine Diack  |  Iok  |  Olimpiese Spele  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.