Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Brazier se Spele-droom van die baan

Sowaar nog ’n Olimpiese Spele en nog ’n droom lê vir die Amerikaanse middelafstandatleet Donavan Brazier aan skerwe.

Die wêreldkampioen in 800 m was die oorweldigende gunsteling vir glorie in Tokio, maar ná ’n skoknederlaag in die Amerikaanse uitdunne vir die Olimpiese skouspel is dié belowende 24-jarige weer in sak en as.

Die 800 m-wêreldkampioen Donavan Brazier was verleë nadat hy laaste in die Amerikaanse uitdunne vir die Tokio-Spele geëindig het. Foto: Getty Images

Brazier se insluiting by die VSA se span na Tokio was in aanloop tot die byeenkoms in Eugene, Oregon byna ’n sekerheid, maar hy het dié week stoom verloor met net 200 m oor en het in 1 minuut en 47.88 sekondes in die heel laaste plek geëindig – en sy Olimpiese voorneme is vir eers daarmee heen.

Dit was die tweede agtereenvolgende keer dat Brazier by dié hekkie gestruikel het. Hy het ook in 2016 voor die Spele in Rio de Janeiro teleurstelling beleef toe hy nie plek in die Amerikaanse span gekry het nie.

“Ek het miskien te vroeg tot aksie oorgegaan en die prys daarvoor in die laaste 200 m betaal,” het Brazier daarna gesê en bygevoeg dat hy “duidelik nie voorbereid was nie”.

Clayton Murphy (26), wat brons in Rio verower het, het in ’n haastige tyd van 1:43.17, die vinnigste tyd in die wêreld vanjaar, gewen. Isaiah Jewett (24) was naasbeste in ’n persoonlike beste tyd van 1:43.85.

Vroeër in die dag het die atlete by die baan opgedaag met ys-frokkies om die geweldige hitte te probeer verdra. Die kwik het by nagenoeg 34 °C gedraai toe die eerste skote op Hayward Field geklap het.

Will Claye sal ’n kans kry om sy Olimpiese silwermedalje tot goud op te gradeer nadat hy die driesprong met ’n afstand van 17,21 m gewen het. Dít nadat hy in Rio in 2016 en in Londen in 2012 met die tweede plek tevrede moes wees.

Hy het ’n merkwaardige terugkeer gemaak nadat hy in 2020 sy haksening geskeur het.

“Dit was ’n moeilike jaar vir my,” het Claye, wat ook silwer in die Wêreldkampioenskappe in 2017 en 2019 verower het, gesê.

“Ek het nou tyd gehad om die nuwe Will Claye te leer ken en om net hierdie groot spronge uit te pluk.”

Hy het die 29-jarige Donald Scott, wat 17,18 gespring het, geklop, terwyl die Olimpiër Chris Benard derde met 17,01 was.

Die paalspringer Sam Kendricks, wat in 2019 in Doha die wêreldkroon gedra het en vyf jaar gelede brons in Rio verower het, het ook sy plek na Tokio verseker.

Hy moes egter die tweede plek deel met KC Lightfoot, agter die wenner Chris Nilsen, wat op 5,90 m oor die dwarslat geseil het.

“Nou kan ek net gaan slaap met die wete dat ek ’n Olimpiër is,” het Kendricks, wat van 2014 tot 2019 agtereenvolgende nasionale titels verower het, gesê.

“Ek dink as iemand vir my ’n kussing gegee het, sou ek net hier op die tartan aan die slaap geraak het,” het hy bygevoeg. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.