Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Gardiner verower 400 m-goud

Steven Gardiner het soos Wayde van Niekerk in 2016 gemaak en ’n Olimpiese titel oor 400 m by sy wêreldtitel gevoeg.

Dié 25-jarige van die Bahamas was Donderdag strykdeur koelkop in die eindronde en het in ’n tyd van 43.85 sekondes glorie behaal.

Steven Gardiner van die Bahamas verower goud in die 400 m se eindronde in Tokio. Foto: Getty Images

Dít in ’n wedloop waar verskeie van sy teenstanders doelgerig was om alles oor die eerste 200 m in te sit, terwyl hy rustig en soos ’n hardebaard by sy wedloopplan gehou het.

Amerika se Michael Norman was soos ’n vuurpyl uit die blokke in die vyfde baan, maar teen die tyd dat hy die laaste draai moes trotseer, het sy tenk begin leegloop.

Gardiner het rustig verby hom geskuif en ’n redelik groot gaping tussen hom en die silwermedaljewenner, Colombia se Anthony Jose Zambrano, bewerkstellig.

KYK: Herleef die 400m-eindronde hier

Nadat hy sy landsvlag gegee is, het Gardiner op die tartan bly sit en dit het gelyk of hy steeds nie kon glo wat hy pas vermag het nie.

Gardiner was die enigste van die atlete in die eindronde wat onder 44 sekondes gehardloop het. Zambrano se tyd was 44.08.

Ofskoon die ervare Kirani James nie nog ’n Olimpiese titel agter sy naam kon skryf nie, het hy ’n bronsmedalje vir sy tyd van 44.19 verower.

Dié blits van Grenada spog nou met drie medaljes in dié nommer op drie Olimpiese skouspele. Sy brons in Tokio kom ná sy silwer in Rio de Janeiro in 2016 en goue medalje in Londen in 2012. Hy is die eerste man wat in drie agtereenvolgende Olimpiese eindrondes in die 400 m aangetree het.

Die Amerikaanse mans het nie Donderdag ’n goeie dag op die baan beleef nie en kon uiteindelik nie die podium haal nie.

Michael Cherry (44.21) moes met die vierde plek tevrede wees, terwyl Norman (44.31) vyfde geëindig het.

Vroeër die dag het die Amerikaners se 4x100 m-aflosspan weens swak oorgeë ook net sesde in sy uitdun geëindig en gevolglik nie vir die eindronde gekwalifiseer nie.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  400 M  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.