Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
KYK: Valjalo wil na Spele met sy skaatsplank

Suid-Afrika se top-skaatsplankryer, Brandon Valjalo (22) van Johannesburg, mik om in Julie vanjaar aan die Olimpiese Spele in Tokio deel te neem.

Nog net een byeenkoms staan tussen Valjalo en die Spele, en dit is die wêreldkampioenskap wat later vandeesmaand in Rome gehou word.

“Ek is baie opgewonde om weer op die internasionale verhoog te kan meeding. Ek het sedert 2019 nie internasionaal meegeding nie,” het Valjalo, wat sedert 2019 ’n reeks internasionale kwalifiseringsrondes vir die Spele voltooi het, gesê.

Valjalo, wat onlangs in Kaapstad op die Suid-Afrikaanse kampioenskap gewen het, het gesê hy wou nog altyd die hoogste vlak in sy sport behaal, en sedert hy verneem het dat skaatsplankry vanjaar deel van die Olimpiese Spele is, is dit sy droom om deel te neem.

“Dit sal ’n droom wees wat waar word. Ek wil my familie, vriende en die land trots maak.”

Brandon Valjalo (22) wys sy slag op die baan. Foto: Eric Palmer

Sy liefde vir skaatsplankry het begin toe hy op drie jarige ouderdom vir die eerste keer op ’n skaatsplank geklim het. Op nege het hy meer betrokke geraak, op 13 het hy aan sy eerste kompetisie deelgeneem en op 14 het hy die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem.

Valjalo sê hy en sy ma, Dina, ook sy bestuurder, het altyd na Ryan Sheckler op televisie gekyk. Sheckler is ’n Amerikaanse professionele skaatsplankryer.

Dit was toe dat Valjalo besluit het dat ’n skaatsplankryer wil word.

Wat toe ’n droom was, is nou ’n werklikheid. In 2019 het hy en Sheckler teen mekaar meegeding.

Hy is tans die kampioen-skaatsplankryer in die land en 48ste op die wêreldranglys. Hy is reeds drie keer as die Suid-Afrikaanse kampioen en twee keer as Afrika-kampioen aangewys.

Brandon Valjalo wys sy behendigheid op die skaatsplank. Foto: Grant Mclachlen

In sy besige program maak hy ook tyd vir sy studies. Valjalo studeer tans aanlyn vir ’n bemarkingsgraad.

Hy oefen daagliks van vyf tot agt uur lank op sy skaatsplank om sy toertjies en tegnieke te verfyn. As deel van sy oefening hardloop hy ook en ry fiets.

Volgens hom vergeet hy van alles wanneer hy op sy skaatsplank is. Dit is wanneer hy vry en gelukkig voel.

Hy het gesê EasyEquities en Betway is tans sy grootste borge. Brandon meen daar is potensiaal vir skaatsplankry, veral noudat dit ’n sport op die Olimpiese Spele is.

Brandon Valjalo (22), top- Suid-Afrikaanse skaatsplankryer van Johannesburg, mik nou na die Olimpiese Spele. Foto: Verskaf

“Dit is baie vermaaklik en mense sal dit geniet om daarna te kyk. Dit sal waarde tot die sport toevoeg en dit nog meer laat groei.”

Toegewyd en talentvol

Wendy Gila, president van Roller Sport South Africa, het gesê Valjalo se kanse om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele lyk goed.

“Brandon is ’n toegewyde en talentvolle atleet. Hy werk hard om die beste te wees. Ons glo in hom en hoop dat hy ons land met passie en waardigheid in die wêreldkampioenskap sal verteenwoordig en die laaste kwalifiserende punte sal verdien om na Tokio te gaan.

“Hy is nog jonk en ná Tokio kan Parys in 2024 sy jaar wees om te skitter. Ons het mense soos Brandon nodig om ’n rolmodel vir ons jong skaatsplankryers te wees.”

Sy het gesê Roller Sport South Africa is verheug om deel van die Olimpiese Spele te wees.

“Skaatsplankry is nuut vir ons federasie en ons het nog ’n lang pad om die dissipline behoorlik te ontwikkel. Dit is opwindend en uitdagend om deel van die eerste behoorlik gestruktureerde gebeure in die land te wees.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Skaatsplankryer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.