Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Kyle (21) beïndruk met sesde plek

As iemand ’n jaar gelede vir hom gesê het 2021 sou ’n sesde plek in die Olimpiese Spele oplewer, sou hy dit met ope arms verwelkom het, sê die 21-jarige gewigstoter Kyle Blignaut.

Drie jaar nadat die Tukkie as die junior wêreldkampioen gekroon is, het hy Donderdag in Tokio as een van die ses beste mans in sy sport na vore getree, danksy ’n beste poging van 21 m.

Die Pretorianer Kyle Blignaut is net 21 jaar oud, maar reeds een van die wêreld se heel beste gewigstoters. Hy het Donderdag sesde in die Olimpiese eindronde geëindig. Foto: Getty Images

Dit was steeds 21 cm kort van die persoonlike beste wat Blignaut vroeër vanjaar behaal het, en nie naby die 21.30 m wat hy Dinsdag gesê het hy sou teiken nie – maar die Pretorianer was nietemin tevrede met hoe dinge verloop het.

“Ek sou hierdie seisoen ’n jaar gelede met albei hande gevat het, maar ek en my afrigter is baie ambisieus en stel dadelik nuwe doelwitte sodra een behaal is,” het hy Donderdag gesê.

“Dinsdag was die doel om die eindronde te haal, maar toe gaan dit so goed dat ons besluit om so naby as moontlik aan ’n medalje te probeer kom. Ek is wel nog steeds bly met hoe dinge vandag uitgewerk het. Gewigstoot is op so ’n hoë vlak en om in die top-ses in die wêreld in ’n kompetisie so groot soos dié te wees, is fantasties. Jy kan nie kla as jy dit op so ’n jong ouderdom vermag nie.”

Blignaut sou hoër as ooit moes vlieg om Donderdag ’n podiumplek los te slaan, met al drie medaljewenners wat die maatband verby die 22 m-merk getrek het. Om die waarheid te sê, die kampioen, Ryan Crouser van Amerika, het ’n 23.30 met sy laaste stoot geregistreer en die Olimpiese rekord vir die derde keer in die eindronde verbeter.

Zane Weir, wat in Amanzimtoti grootgeword het, was vyfde in die kleure van Italië. Foto: Reuters

Crouser se eerste poging van 22.83 was ’n liniaal-lengte verder as sy eie vorige rekord van 22.52, en sy tweede poging van 22.93 nóg verder.

Sy uiteindelike wenafstand was net 6 cm kort van sy eie wêreldrekord.

Nog ’n Amerikaner, Joe Kovacs, was tweede met 22.65 en die Nieu-Seelander Tomas Walsh derde met 22.47.

Die man in die vyfde plek, Zane Weir, was in die frokkie van Italië, maar is ’n gebore Suid-Afrikaner wat in Amanzimtoti grootgeword het. Die 25-jarige oud-Ikey het vroeër vanjaar besluit om vir sy ma se geboorteland deel te neem, ná ’n leeftyd van luister na die verhale wat sy oupa Mario oor sy eie lewe as ’n Italiaanse sportman vertel het.

“Die groot rede is my oupa se geskiedenis in Italië – hy was ’n groot sportman. As ’n kind het jy so ’n unieke verhouding met jou oupa, veral ek wat sy enigste kleinseun is,” het Weir aan IOL gesê.

“My oupa het ongelukkig nou Alzheimers, en dis so erg dat hy my nie meer onthou nie. Ek het net gevoel dit sal ’n pragtige en sentimentele volsirkel-oomblik wees as ek ons verhouding kan vereer met ’n sportloopbaan van my eie. Ek kon voel dis die regte ding toe ek na Italië is om te kyk of ek daar kan leef.”

Weir het Donderdag ’n nuwe persoonlike beste afstand van 21.41 m behaal om die vyfde plek te verseker. Voor die Spele kon hy die bal nooit verder as 21.11 stoot nie, maar hy het dit verander met ’n 21.25 in die uitdunne.

“Ek wil net geluk sê aan Zane, met sy groot persoonlike beste. Ons het saam geoefen en hoewel hy nou vir Italië deelneem, is ek baie trots op hom,” sê Blignaut.

“Dis tog hoekom ons hier is: om so naby moontlik aan ons beste te kom in die eindronde van ’n groot kompetisie.”

Meer oor:  Gewigstoot  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Kyle Blignaut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.