Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Kyle wil maatband nou lekker ver trek
Die 21-jarige Kyle Blignaut sal Donderdagoggend aantree vir die eindronde van die gewigstoot in Tokio. Foto: Anton Geyser | SASPA | SASI

Die Tuks-gewigstoter Kyle Blignaut was Dinsdag baie in sy noppies nadat hy die gewigstootbal in Tokio net kort duskant die 21 meter-merk laat val het – en nou stel hy sy visier nóg verder.

Blignaut was die enigste Suid-Afrikaanse atleet wat op die 11de dag van die Olimpiese Spele in Tokio nog ’n vurk op sy pad kon vind, toe hy met ’n afstand van 20,97 m die agtste beste afstand in die kwalifiseringsrondes behaal en tot Donderdag se eindronde deurgedring het.

Sy spanmaat Jason van Rooyen se beste afstand van 20,29 m was egter nie genoeg om dieselfde hek voor hom oop te maak nie.

Die 21-jarige Blignaut het in Mei by die Suid-Afrikaanse universiteite-kampioenskap die maatband tot 21,21 m gerek vir ’n nuwe persoonlike beste en wil in Donderdag se eindronde nou hierop voortbou.

“Ons (hy en sy afrigter se) plan was om in kwalifisering ’n diep 20 of lae 21 te stoot om in die eindronde te kom, en dan te mik vir ’n nuwe beste afstand. Ek dink dit behoort my in die top-ses of top-agt te kry,” het Blignaut gesê.

“Ek mik vir ’n middel-21, want dit kan ’n mens dalk ’n medalje in die sak bring. In 2016 was daar ’n 21.30 op die podium (die 21.36 waarmee Nieu-Seeland se Tomas Walsh brons gewen het), so as ek oor daardie afstand kan gaan, sal ek baie tevrede wees.”

Blignaut het gesê hy kan “op ’n goeie dag ’n meter verder gooi (as Dinsdag), op ’n so-so dag ’n halwe meter en op ’n fantastiese dag by 22 uitkom”.

Shaun Maswanganyi probeer tot verhaal kom nadat hy nie kon deurdring tot die eindronde van die 200 m nie. Foto: Getty Images

• Blignaut se blink vertoning was ’n welkome ligpunt ná ’n dag waarin die land se hoop verydel is in die 200 m vir mans, die spiesgooi vir vroue, die 110-hekkies vir mans én die 5 000 vir mans.

Daar was groot opgewondenheid nadat Anaso Jobodwana, Clarence Munyai en Shaun Maswanganyi almal vroeg Dinsdagoggend outomaties vir die halfeindronde gekwalifiseer het – maar toe hulle later die dag daarvoor aantree, kon nie een seker maak hulle gesels verder saam nie.

Jobodwana, wat by die Spele-span ingesluit is op grond van sy wêreldranglysposisie en nie omdat hy die kwalifiseringsvereiste oortref het nie, was laaste in sy halfeind met ’n tyd van 20.88. Dit was ’n uiters teleurstellende vertoning deur ’n man wat ses kort jare gelede die Wêreldbyeenkoms-podium met Usain Bolt en Justin Gatlin gedeel het.

Sy pad terug na dae soos daardie lyk ongelukkig baie lank.

Munyai het sy vinnigste tyd dié seisoen (20.49) opgestel in sy halfeind, maar was net sesde.

Die beste van die Suid-Afrikaners was die 20-jarige Maswanganyi, wat in ’n stadium die voortou in sy halfeindronde geneem het, maar nie kon byhou toe Kanada se Andre de Grasse en die Amerikaner Kenneth Bednarek deur hul spreekwoordelike ratte begin gaan nie.

Die duo het onderskeidelik 19.73 en 19.83 gehardloop om die eindronde as gunstelinge te betree. Maswanganyi was vierde in 20.18 – ’n tyd wat sy enorme potensiaal onderstreep het, maar by hierdie Spele nie ’n glimlag op sy gesig kon sit nie.

Jo-Ané van Dyk se eerste Spele het in teleurstelling geëindig toe sy vroeg Dinsdagoggend nie vir die eindronde kon kwalifiseer nie. Haar beste poging was 57,69 m.

Antonio Alkana se Spele-aanslag het geëindig toe hy met ’n tyd van 13.55 sesde in sy uitdun in die 110-hekkies was. Precious Mashele kon net 15de in sy uitdun van die 5 000 eindig. Sy tyd was 13:48.25.

Meer oor:  Gewigstoot  |  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Kyle Blignaut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.