Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Lawrence en John jag nou saam goud

Die roeiers Lawrence Brittain en John Smith sal aanstaande maand in Tokio saam jag maak op die tweede Olimpiese medaljes van hul loopbane, wanneer hulle saam in Suid-Afrika se viermanboot klim.

Smith was nege jaar gelede lid van die viertal wat vriend en vyand met Olimpiese goud in Londen verras het, saam met onder andere Lawrence se ouboet Matthew.

Lawrence Brittain

Vier jaar later in Rio de Janeiro het Lawrence self op die Olimpiese podium gestaan, ná hy en Shaun Keeling silwer in die pare gewen het.

Brittain, Smith, Kyle Schoonbee en Sandro Torrente sal in die laaste week van Julie probeer om nog ’n medalje vir Suid-Afrika in die viertal-kompetisie te wen. Jake Green en Luc Daffarn sal dié keer die tweemanboot beman.

Die ses roeiers se name tel onder dié wat gisteraand by die SAUK uitgelees is as lede van Span Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee (Saskok) het die name van vyf atlete, die roeiers, twaalf swemmers en verteenwoordigers in seiljagvaart, waterpolo, skaatsplankry, branderplankry, driekamp, fietsry, sewesrugby en sierswem gevoeg by die 64 wat verlede maand aangekondig is.

Anders as toe is die name van ’n paar Olimpiese medaljewenners ook nou uitgelees. Benewens Brittain en Smith kan Wayde van Niekerk, Chad le Clos en Henri Schoeman se mates vir die span-sweetpak ook uiteindelik geneem word.

Le Clos, wat reeds vier Olimpiese medaljes het (waaronder die goue wat hy gewen het toe hy Michael Phelps in 2012 verslaan het), is saam met die opwindende Tatjana Schoenmaker die swemmers wat die fynste dopgehou moet word.

Schoenmaker gaan Tokio toe met baie realistiese medalje-drome, ná sy die afgelope nege maande die een Afrika-rekord na die ander laat spat het.

Schoeman, die heersende Statebondkampioen in driekamp, sal soos in Rio de Janeiro saam met Richard Murray aantree vir die Olimpiese kompetisie.

Murray was vyf jaar gelede een van die gunstelinge, maar moes ná ’n seisoen vol beserings met die vierde plek tevrede wees. Schoeman was die man wat hom van die podium gehou het, met ’n derde plek wat niemand voorspel het nie.

Nou is Schoeman ’n veel bekender gesig vir driekamp-kykers, en sal daar ewe veel oë op hom wees as op Murray.

Wat Van Niekerk betref, is daar nog vrae oor sy kans om die Olimpiese 400m-titel wat hy in 2016 met ’n wêreldrekordtyd gewen het, suksesvol te verdedig. Hy het die afgelope naweek uiteindelik vir die Spele gekwalifiseer, en in ’n videoboodskap gesê hy sien uit daarna om nou op sy laaste voorbereidings vir Tokio te begin konsentreer.

’n Paar Suid-Afrikaners sal hul Olimpiese buiging in Tokio maak, in sportkodes wat vir die eerste keer deel van die skouspel vorm. Hieronder tel die branderplankryer Jordy Smith en skaatsplankryers Andrew Oberholzer, Brandon Valjalo, Melissa Williams en Boipelo Awuah.

Atletiek: Kyle Blignaut, Marc Mundell, Wayde van Niekerk, Gift Leotlela, Shaun Maswanganyi.
Roei: Jake Green, John Smith, Kyle Schoonbee, Lawrence Brittain, Luc Daffarn, Sandro Torrente.
Seiljagvaart: Leo Davis.
Waterpolo: Mans: Cameron Laurenson, Devon Card, Donn Stewart, Farouk Mayman, Gareth May, Ignardus Badenhorst, Jason Evezard, Liam Neill, Lwazi Madi, Nicholas Rodda, Roarke Olver, Ross Stone, Yaseen Margro. Vroue: Amica Hallendorff, Ashleigh Vaughn, Boati Motau, Chloe Meecham, Daniela Passoni, Georgia Moir, Hannah Muller, Jordan Wedderburn, Kelsey White, Megan Maartens, Megan Sileno, Shakira January, Yanah Gerber.
Skaatsplankry: Andrew Oberholzer, Melissa Williams, Brandon Valjalo, Boipelo Awuah.
Branderplankry: Jordy Smith.
Swem: Bradley Tandy, Chad le Clos, Emma Chelius, Erin Gallagher, Ethan du Preez, Kaylene Corbett, Matthew Sates, Michael Houlie, Pieter Coetze, Tatjana Schoenmaker, Aimee Canny, Mariella Venter.
Sierswem: Clarissa Johnston, Laura Strugnell.
Driekamp: Gillian Sanders, Henri Schoeman, Richard Murray, Simone Ackerman.
Fietsry: Stefan de Bod.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.