Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Ledecky jaag geskiedenis in swembad
Katie Ledecky kan geskiedenis maak as sy goud in al haar items kan wen. Foto: Getty Images

Die Amerikaner Katie Ledecky kan die suksesvolste vroue-Olimpiër van alle tye word met nog ’n goue-aanslag in Tokio, maar Australië se Ariarne Titmus kan dié drome laat verbrokkel.

Die tweestryd in die swembad tussen Stanford-Universiteit se gegradueerde Ledecky, die oorheerser van die vroue se langafstandswem, en die 20-jarige Tasmaanse Terminator (Titmus) beloof om een van die hoogtepunte van die eerste week te wees.

Ledecky het vier goue medaljes en ’n silwer in 2016 in Rio de Janeiro verower om by haar goud te voeg wat sy as 15-jarige in 2012 in Londen behaal het.

Ledecky het vier goue medaljes en ’n silwer in 2016 in Rio de Janeiro verower om by haar goud te voeg wat sy as 15-jarige in 2012 in Londen behaal het.

Nog drie goue medaljes sal die 24-jarige haar afgetrede landgenoot Jenny Thompson se rekord ewenaar as die suksesvolste vroue-swemmer by die Spele met agt eerste plekke.

Nog vyf goue medaljes is nie buite die kwessie nie. Ledecky het in vier individuele items – die 200-, 400-, 800-, en 1 500-vryslag – gekwalifiseer, met die aflos wat haar tot ’n nuwe rekord kan neem.

Ledecky hou wêreldrekords in die 400-, 800- en 1 500-vryslag, met laasgenoemde wat ’n nuwe toevoeging tot die vroue se program by die Spele is.

Sou sy weer in die 800-vryslag baas wees, sal dit haar derde agtereenvolgende goud in dié nommer wees.

Net drie swemmers, van wie een Michael Phelps is, het al só ’n driekuns vermag.

Die Australiër Ariarne Titmus sal Ledecky se partytjie wil bederf. Foto: Getty Images

Titmus kan vir ’n ander storielyn sorg.

Sy was ’n sensasie by 2019 se Wêreldkampioenskap toe sy vir Ledecky om die 400-vryslag se goud geklop het, en sy het haar teenstanders laat les opsê in die 200-, 400-, en 800-eweknieë by die Australiese kwalifiseringsbyeenkoms in Adelaide in Junie.

“Alles gaan nie net vir haar reg verloop nie,” het Titmus gesê nadat sy die naasbeste tyd tot nog toe in die 400-vryslag aangeteken het en beloof het om alles te gee in Tokio se swembad.

“Ek kan nie beheer wat sy doen nie, ek net myself beheer en as ek my beste lewer en myself in ’n posisie plaas om ’n goue medalje te verower, dan gaan dit ’n goeie resies wees.”

Australië se opgewondenheid is boonop ook oor die nuweling, Kaylee McKeown, wat die Amerikaner Regan Smith se 100-rugslag-wêreldrekord verbeter het op die tweede dag van hul nasionale uitdunne.

“Ek dink nie dit gaan suiwer die VSA se Spele wees nie,” het Titmus verder gesê.

Amerika was koning in die swembad in Rio de Janeiro met 33 medaljes, waarvan 16 goud was. Australië was toe tweede met tien medaljes, waarvan drie goud.

Swede se Sarah Sjostrom, die Olimpiese kampioen in die 100-vlinderslag, het Tokio gehaal nadat sy in Februarie haar elmboog gebreek het.

Caeleb Dressel Foto: Getty Images

Hongarye se Katinka Hosszu, wat drie goue medaljes in 2016 verower het, sal poog om haar titel te verdedig in die 400-individuele wisselslag, met Kanada se Penny Oleksiak wat dieselfde in die 100-vryslag sal wil doen.

Aan die mans se kant teiken Caeleb Dressel goud in die eerste Spele in ’n kwarteeu wat nie vir Phelps insluit nie.

Phelps, wenner van 28 Olimpiese medaljes, insluitend 23 goud, is in Tokio as ’n televisie-analis.

Dressel het in Rio de Janeiro twee goue medaljes in die aflos verower, maar sy agt medaljes by 2019 se Wêreldkampioenskap maak van hom loshande die gunsteling in die 50- en 100-vryslag, sowel as die 100-vlinderslag.

Daar is onsekerheid oor hoeveel rekords kan tuimel by ’n Spele waarvan die atlete in die aanloop erg deur die Covid-19-pandemie ontwrig is.

Die Britse verdedigende kampioen en wêreldrekordhouer in die 100-borsslag, Adam Peaty, sal na verwagting wil verbeter op sy beste van 56.88.

Ek sê nie ek gaan dit kan doen nie, maar ek glo ek kan vinniger as die wêreldrekord wees.
Adam Peaty

“Ons het die somme gemaak en ek dink as alles absoluut perfek verloop, en ek praat nou van as jy die vinnigste dele wat ek al in ’n fisieke resies geswem het alles bymekaar sit, dan is dit 56.2 of 56.3, wat mal is,” het Peaty gesê.

“Ek sê nie ek gaan dit kan doen nie, maar ek glo ek kan vinniger as die wêreldrekord wees.”

Hongarye se Kristof Milak is nog een wat dopgehou kan word nadat hy vir Phelps onttroon het as die 200-vlinderslag se wêreldrekordhouer. – Reuters

Meer oor:  Caeleb Dressel  |  Katie Ledecky  |  Japan  |  Australie  |  Tokio  |  Vsa  |  Goud  |  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.