Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
LJ: ‘Karsten kan met Wayde se rekord mors’

Karsten Warholm se verstommende nuwe wêreldrekord in die 400 m-hekkies is voorheen nie as haalbaar beskou nie en sou hy sy fokus na die gewone 400 verskuif, kan Wayde van Niekerk se rekord in die slag bly.

So het die voormalige Suid-Afrikaanse hekkies-ster LJ van Zyl gesê toe hy om kommentaar genader is oor die Noorweër se tyd van 45.94, wat hom Dinsdag ’n goue medalje in die sak gebring het by die Olimpiese Spele in Tokio.

Karsten Warholm het die atletiekwêreld Dinsdag geskok met sy wêreldrekord van 45.94 in die 400 m-hekkies. Foto: Getty Images

“Dit is ’n geskiedkundige dag in atletiek,” het Van Zyl aan Netwerk24 gesê.

“Ek het opgestaan om die wedloop te kyk en dit sedertdien seker al 50 keer gekyk.

“Ek het eerlikwaar gedink Warholm kan ’n 46.50 hardloop, maar beslis nie vir ’n oomblik gedink dat enigiemand ooit 45.94 sou kon haal nie.”

Van Zyl, wat ’n persoonlike beste tyd van 47.66 in sy loopbaan behaal het, glo Warholm se vertoning is die beste individuele wedloop tot nog toe in atletiek.

“Om ’n idee te gee van wat Warholm en Rai Benjamin (wat tweede was in 46.17) vermag het, moet na hul vertoning in die pylvak gekyk word. Hulle was hier so goed soos Michael Johnson toe hy op die kruin van sy loopbaan was . . . en dan hardloop hulle nog hekkies. Dit is mal,” vertel die 36-jarige Van Zyl.

“Ek het geen twyfel nie dat, sou hulle twee besluit om hulle op die 400 m toe te spits, sal albei van hulle Wayde van Niekerk se wêreldrekord van 43.03 kan verbeter. Dít is hoe vinnig hulle is.”

Warholm het in Junie die 300 m-hekkies, ’n vreemde nommer, se wêreldrekord tot 33.26 sekondes verbeter.

LJ van Zyl in aksie in 2011 by die Wêreldkampioenskap in Suid-Korea. Foto: Getty Images

Van Zyl meen Warholm het Dinsdag dié rekord ook verpletter.

“Warholm het boonop die 300 m-kerf verbygesteek in 33.0. Hy het tegnies sy eie wêreldrekord in die 300 m-hekkies oortref.”

Warholm het reeds vroeër vanjaar Kevin Young se wêreldrekord van 46.78 tot 46.70 verbeter. Dié rekord het sedert 1992 se Olimpiese Spele in Barcelona gestaan.

“Karsten het aangetree as die wêreldrekordhouer en dit was net sy vierde wedloop van die jaar. Hy het geweet Benjamin het die vorige rekord ook amper gebreek. Hy het al die druk op hom gehad, veral omdat die Amerikaner en Brasilië se Alison dos Santos vanjaar goed op dreef was.”

“Steeds het hy kop gehou. Toe Benjamin hom ingehaal het by die laaste hekkie, was dit asof hy net nog iets ekstra in die tenk gehad het. Dit is waar atlete normaalweg droogmaak.”

Wat dié wedloop verder uniek maak, is dat ses atlete in die eindronde vinniger as 48 sekondes gehardloop het.

Met die Olimpiese titel in die sakkie, asook die wêreldkroon en wêreldrekord agter sy naam, wat kan moontlik nog sy doelwitte wees?

Van Zyl glo dat net Edwin Moses se ongeëwenaarde onoorwonne rekord nou in Warholm se visier sal wees.

Tussen 26 Augustus 1977 en 4 Junie 1987 het Moses elke 400 m-hekkieswedloop gewen waarin hy aangetree het.

Sy onoorwonne segetog het nege jaar, nege maande en nege dae geduur, waartydens hy in 122 wedlope (109 eindrondes) baas was.

Warholm het op 8 September 2018 laas die knie gebuig. Sedertdien was hy in 20 agtereenvolgende wedlope in die 400 m-hekkies eerste oor die wenstreep.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Karsten Warholm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.