Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Louis onttrek aan Olimpiese Spele

Suid-Afrika sal vanjaar weer nie van ’n Olimpiese medalje vir Louis Oosthuizen kan droom nie.

Oosthuizen, die naaswenner in die afgelope twee major-toernooie, het Dinsdag op Twitter aangekondig dat hy nie na Tokio sal reis vir die Olimpiese Spele nie, omdat hy eerder op sy gesin en die FedExbeker-reeks in Amerika wil konsentreer.

Louis Oosthuizen Sondag in die laaste ronde van die Amerikaanse Ope in aksie. Foto: USA Today Sports

“Om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer, is ’n groot prestasie en daar is geen groter eer as om jou land te verteenwoordig nie, so dit was ’n moeilike besluit vir my, my span en my gesin om te onttrek aan (die Spele in) Tokio,” het Oosthuizen getwiet.

“Ek is nou daarop gefokus om my sterk FedExbeker-seisoen af te sluit en om familieverantwoordelikhede na te kom met die nuwe lewe wat ons op die plaas bou. Familie was nog altyd my kern en dis in hierdie tyd van ons lewe die beste besluit.”

Oosthuizen is tans 12de op die wêreldranglys en Suid-Afrika se voorste speler. Daarom was hy geoormerk om een van twee SA verteenwoordigers in die Olimpiese gholfkompetisie te wees, saam met die 22-jarige Garrick Higgo.

Die 38-jarige Suid-Kapenaar se onttrekking beteken dat die heersende SA Ope-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, nou gevra sal word om Tokio toe te gaan.

Christiaan Bezuidenhout het nou die opsie om aanstaande maand ’n Olimpiër te word. Foto: Reuters

Bezuidenhout se peil is die afgelope maand goed. Hy was in albei die laaste majors onder die voorste tien spelers ná 54 putjies.

Oosthuizen het ook in 2016 gekwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, maar toe, soos nou, besluit om eerder tyd saam met sy vrou en hul drie dogters deur te bring.

Dié keer het hy boonop die ekstra versoeking van die roepstem van die plaas buite Tampa in Florida, wat hy onlangs gekoop het.

Wat die FedExbeker-reeks betref, bevind die Suid-Afrikaner hom ná sy tweede plek in die Amerikaanse Ope in die tiende plek op die puntelys. Hy kon net een keer vantevore in die top-tien eindig, toe hy in 2012 sewende was.

Die uitspeeltoernooie van die reeks begin op 19 Augustus, drie weke ná die Olimpiese kompetisie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.