Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Manspan wys staal in nederlaag
Die Protea-doelskieter Mustapha Cassiem kyk die bal saam met die Nederlanders Joep de Mol en Pirmin Blaak agterna, nadat Cassiem dit in die 62ste sekonde van die spanne se Olimpiese stryd doelhok toe gemoker het. Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan het gister net 62 sekondes nodig gehad om deur Nederland se skanse te breek, en net 18 minute om hul teenstanders soos kwaai huisvrouens onder mekaar te laat kyf.

Maar helaas was hulle magteloos toe die Oranje se humeure begin kalmeer en hul kompasse behoorlik ingestel word. Wat ná 18 minute ’n voorsprong van 3-0 vir die Proteas was, het geëindig in ’n nederlaag van 5-3. En vanselfsprekend heelwat lang lippe.

Suid-Afrika se hokkiemans is ná hul eerste twee wedstryde in vanjaar se Olimpiese Spele steeds segeloos, ná dapper en dikwels hoogs indrukwekkende spel nie genoeg was om die hokkiereuse Groot Brittanje en Nederland van die deur te hou nie.

Nadat hulle Saterdagaand in hul nederlaag van 3-1 teen die Britte ’n heldhaftige vertoning gelewer het, het die Suid-Afrikaners Sondag met heelwat selfvertroue opgedraf teen Nederland – en uit die staanspoor die kat in die hoenderhok gegooi.

Mustapha Cassiem het die eerste doel van die kragmeting ná net 62 sekondes aangeteken, en tien minute later het sy broer Dayaan verdere sout in die Nederlandse wonde gevryf.

Toe Tevin Kok die bal in die 18de minuut met ’n allemintige hou tot teen die agterkant van die doelhok lanseer, het Suid-Afrika ’n gemaklike kussing gehad, en was die Nederlanders in mekaar se hare.

Maar wanneer dit by hokkie kom, is Nederland geen hierjy-span nie. Hulle is die heersende Europese kampioen, ’n driemalige Wêreldbeker-wenner en ’n tweemalige Olimpiese kampioen.

Hul terugvegpoging het laat in die tweede kwart begin, toe Thijs van Dam die bal met ’n gefrustreerde veeg verby die Suid-Afrikaanse verdedigers tot in die hok gejaag het. Tot in daardie stadium het die Protea-doelwagter Rassie Pieterse uitstekend gedoen om die Nederlanders te ontsê, maar ná hy die eerste keer geklop is, het hulle nuwe geloof gehad.

Die Europeërs het die doele daarna met reëlmaat aangeteken, en met elkeen het die Suid-Afrikaanse skouers ’n bietjie meer gehang.

Ondanks die uiteindelik lelike prentjie wat die telbord geskets het, verdien afrigter Garreth Ewing en sy spelers ’n klop op die skouer. Hulle is Tokio toe met min kompetisie-voorbereiding onder die blad, en met ’n groep spelers wat teruggehou word deur hul sport se amateurstatus.

Maar die natuurlike talent is daar, en die honger om die Goliats van die hokkiewêreld neer te vel ook. ’n Mens kan maar net hoop hulle hou aan om grotes so te laat skrik soos Sondag, sodat korporatiewe Suid-Afrika die waarde van ’n belegging in hulle kan sien.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Suid-Afrika  |  Nederland  |  Manshokkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.