Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
McLaughlin doen Warholm dit na

Net 24 uur ná die geskiedkundige wedloop in die mans se 400 m-hekkies het die Amerikaanse vroue-atleet Sydney McLaughlin ook die rekordboeke in dié nommer herskryf.

Sydney McLaughlin steek die eindstreep oor in ’n nuwe wêreldrekordtyd in die 400 m-hekkies in Tokio. Foto: Getty Images

Sy het Woensdag haar eie wêreldrekord gebreek en in ’n tyd van 51.46 sekondes goud verower.

Net soos in die mans se wedloop het die atleet wat tweede geëindig het, Dalilah Muhammad, ook die vorige wêreldrekord oortref. Haar tyd van 51.58 was heelwat vinniger as McLaughlin se ou rekord (51.90).

Femke Bol van Nederland het boonop in 52.03 brons verower.

Muhammad was in Junie vanjaar nog met ’n tyd van 52.16 die wêreldrekordhouer. Dit wys dus hoe vinnig Woensdag se 400 hekkies-eindronde was.

McLaughlin, wat Saterdag haar 22ste verjaardag vier, was in die vierde baan, met Bol in baan vyf en Muhammad in baan sewe.

Ofskoon Muhammad vir die grootste deel van die wedloop voor was, kon die verdedigende kampioen en wêreldkampioen nooit ’n wesenlike voorsprong bo haar landgenoot bewerkstellig nie.

Soos wat die atlete die pylvak binnegegaan het, het Muhammad ’n voorsprong van een meter geniet, maar die 21-jarige McLaughlin het nie bes gegee nie.

Die laaste hekkie was die deurslaggewende een.

Albei vroue het klein aanpassings gemaak om dit veilig oor te steek, met Muhammad wat haar aanloop verkort het, terwyl McLaughlin haar treë verleng het.

Teen die tyd dat hulle voete die grond geraak het, was McLaughlin byna voor en het sy genoeg in die tenk gehad vir ’n laaste eindpoging.

Tog het sy nie haar hande in die lug gegooi soos wat sy die wenstreep oorgesteek het nie. Sy het nie haar oorwinning met ’n gil van verligting gevier nie en daar was ook geen trane om van te praat nie. Daar was net ’n vlietende glimlag, want dié Amerikaner was gaar.

“Dit is nie een van daardie nommers wat almal altyd wil kyk nie, maar ek dink ons (die vroue sowel as die mans) het dinge baie interessant gemaak,” het die nuwe kampioen daarna gesê.

Haar wentyd sou tot en met 1970 beter as die gewone 400 m se wêreldrekord gewees het.

Muhammad het self die beste tyd van haar loopbaan aangeteken, terwyl Bol die Europese rekord oortref het.

Janieve Russell se 53.08 is die vinnigste tyd nog in ’n vierde plek, terwyl Anna Ryzhykova (53.48) en Viktoriya Tkachuk (53.79) ook onder 54 sekondes gehardloop het.

Dié tye beteken dit was die vinnigste 400 m-hekkieswedloop in die geskiedenis van vroue-atletiek.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.