Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Kaylene Corbett gaan nou ‘ruk en rol’

Toe Kaylene Corbett verlede week in Johannesburg op die vliegtuig geklim het om die lang tog na Tokio te begin, was haar enigste hoop vir haar Olimpiese buiging dat sy ná twee jaar se gesukkel uiteindelik vinniger as 2:24.18 in die 200 m-borsslag sou swem.

Dié tyd, haar persoonlike beste, het reeds agter haar naam gestaan sedert die eindronde in 2019 se Wêreldkampioenskap – en lelik aan haar begin krap.

Meer as waarvoor sy durf hoop het . . . Kaylene Corbett is in ekstase nadat sy Woensdag haar vorige beste tyd in die 200 m-borsslag met meer as ’n sekonde en ’n half verbeter het. Foto: AP

Dis geen wonder die 22-jarige Pretorianer se glimlag het by haar ore vasgehaak toe sy Woensdag aan die einde van haar uitdun opkyk en ’n skitterende 2:22.48 langs haar naam sien nie. In daardie oomblik het sy reeds meer bereik as wat sy moontlik van die Tokio-Spele kon verwag.

Corbett was een van ’n rits Suid-Afrikaners wat Woensdag in die vyfde aandsessie van die Olimpiese swemprogram nuwe hoogtes bereik het, met ’n vertoning wat haar nie net in die halfeindronde gekry het nie, maar ook van ’n goeie baan daarin verseker het.

Net drie vroue – onder wie haar goeie vriendin en mede-Pretorianer Tatjana Schoenmaker, wat almal anders oorskadu het met ’n amperse wêreldrekord – kon vinniger as Corbett swem in die uitdunne.

My stoutste verwagtinge is reeds oortref deur wat ek hier beleef het, so van hier af gaan ek net pret in die swembad hê – net ‘ruk en rol’.

“Ek het twee moeilike jare gehad, want ek kon nie weer naby my persoonlike beste kom nie en het so nou en dan nogal ontmoedig geraak daaroor,” het sy gesê.

“Nou is ek net so dankbaar. My enigste doelwit was om ’n nuwe beste tyd op te stel . . . maar toe gee God my soveel meer as waarvoor ek durf hoop het.

“Hierdie Spele is al klaar so ’n wonderlike ervaring. Julle kan hoor my stem is gaar, want ons sit daar bo en moedig ons spanmaats met soveel geraas as wat ons kan aan en dis vir my heerlik om my vriende te sien deelneem en al die emosie te sien. My stoutste verwagtinge is reeds oortref deur wat ek hier beleef het, so van hier af gaan ek net pret in die swembad hê – net ‘ruk en rol’.”

Ons sê vir mekaar ons is susters in Christus, so dis vir ons ’n groot ding om mekaar te sien goed vaar.

’n Groot rede vir Corbett se brose stem was die voortreflike vertoning wat Schoenmaker kort voor haar onderhoude gelewer het. Corbett en Schoenmaker het albei geswem in die 200-borsslag-eindrondes van 2018 se Statebondspele en 2019 se Wêreldkampioenskap (waarin Schoenmaker onderskeidelik goud en silwer gewen het) en Corbett beskryf haar vriendin as ’n inspirasie.

“Ons sê vir mekaar ons is susters in Christus, so dis vir ons ’n groot ding om mekaar te sien goed vaar,” sê Corbett.

“Daar was nog nooit vyandigheid of enigiets slegs tussen ons nie, ons ondersteun mekaar net.

“Ek is mal daaroor om te sien hoe sy haar doelwitte bereik en ek dink dis iets wat die hele groep inspireer en aanspoor, nie net vir my nie.”

Dat die SA swemgroep deur inspirasie getref is, was inderdaad Woensdag duidelik.

Anders as op die eerste drie aande, toe elke SA swemmer buiten Schoenmaker en Chad le Clos laaste of tweede laaste in hul uitdunne was, het al die land se deelnemers dié keer goeie rekenskap van hulself gegee.

Erin Gallagher (100-vryslag) en Martin Binedell (200-rugslag) was tweede in hul onderskeie uitdunne, maar het ongelukkig nie die halfeindronde gehaal nie.

Matthew Sates het vir homself die beste moontlike geskenk gegee, toe hy Woensdag op sy 18de verjaardag vir die Olimpiese halfeindronde van die 200-individuele wisselslag gekwalifiseer het. Foto: Anton Geyser | SASPA| SASI

Die Pietermaritzburger Matthew Sates het wel vir homself ’n baie spesiale geskenk gegee toe hy op sy 18de verjaardag algeheel 15de vinnigste in die 200- individuele wisselslag-uitdunne was en dus tot die halfeindronde deurgedring het.

Daarna het die 4x200-vryslag-aflosspan van Emma Chelius, Rebecca Meder, Dune Coetzee en Gallagher hul eie Afrika-rekord met byna drie sekondes verbeter, van 8:04.71 tot 8:01.56. Hoewel hulle net sesde kon eindig en sleg afgesteek het by die pasaangeër-Amerikaners (wat met ’n 7:47.57 gewen het), is dit bemoedigend dat daar verbetering was.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Matthew Sates  |  Tokio-Spele  |  Kaylene Corbett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.