Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Min verrassings in ‘Blitsbok-groep’ vir Spele

Justin Geduld en Dylan Sage, wat deel van die Blitsbok-span was wat in 2016 ’n bronsmedalje by Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verower het, is ingesluit in ’n voorlopige groep vir vanjaar se skouspel in Tokio.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Donderdagaand ’n groep van 17 nasionale sewesspelers aangekondig vir vanjaar se Spele wat op 23 Julie in die Japannese hoofstad begin.

Dylan Sage was deel van die Blitsbok-span wat die bronsmedalje by die Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro verower het. Hier is hy in aksie tydens die Parys-sewestoernooi in 2018. Foto: Getty Images

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, sal sy groep van 12 plus twee reisende plaasvervangers op 5 Julie aanwys.

Die 17 name wat uitgelees is, is met die uitsondering van Ronald Brown en Lubabalo Dobela, almal spelers wat al in Wêreldrugby se sewesreeks diens gedoen het.

Branco du Preez, wat in 2016 oor die hoof gesien is, en Chris Dry, wat destyds ’n ongebruikte plaasvervanger was, se name verskyn ook op die lys. Spelers wat wel nie die paal gehaal het nie, is Ryan Oosthuizen en James Murphy.

Stedman Gans, Selvyn Davids, Ruhan Nel en die kaptein, Siviwe Soyizwapi, wat almal nog herstel van beserings, is wel by die groep ingesluit.

Die vlugvoetige Justin Geduld, ’n spelskepper, is in die wedloop om vir ’n tweede keer by die Olimpiese Spele in aksie te wees. Foto: Gallo Images

Powell sê in ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hy is tevrede met die groep.

“Ons is steeds vyf weke weg van ons eerste wedstryd, so ek het nog tyd om die moeilike besluit te neem oor watter drie spelers moet agterbly. Hulle (die drie) sal in elk geval op bystand wees,” sê Powell.

“Rugby is ’n snaakse sport, veral met beserings en die onsekerhede wat heers rondom Covid. So die deur is nooit vir almal toe nie, nie eens vir spelers buite die groep nie.”

Oor wie die drie spelers gaan wees wat nie die paal haal nie, heers daar onsekerheid.

Angelo Davids, wat gewoonlik vleuel speel, het tydens ’n onlangse oefenkamp van die Blitsbokke in Johannesburg, suksesvol die skuif na haker gemaak. Die verwagting is dat hy, veral weens sy veelsydigheid, die paal sal haal. Sage, ’n voorspeler in die korter weergawe van die spel, het onlangs terugkeer van Frankryk waar hy 15-man-rugby gespeel het. Danksy sy ervaring, sal hy moeilik oor die hoof gesien kan word, wat straks kan beteken dat Impi Visser of Dry met Jan Tuisbly se karretjie sal moet ry.

Onder die agterspelers loop Muller du Plessis, wat senter of vleuel kan speel, die gevaar om nie die finale groep te haal nie. Soyizwapi is die eerste keuse op vleuel, terwyl Angelo Davids ook dié posisie kan vul.

Die Blitsbokke vertrek op 12 Julie na Japan.

• Die groep van 17 is: Sakoyisa Makata, Impi Visser, Zain Davids, Angelo Davids, JC Pretorius, Branco du Preez, Justin Geduld, Siviwe Soyizwapi, Stedman Gans, Ronald Brown, Chris Dry, Ruhan Nel, Muller du Plessis, Lubabalo Dobela, Selvyn Davids, Dylan Sage en Kurt-Lee Arendse.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Neil Powell  |  Tokio-Spele  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.