Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Minstens dag van ‘terapie’ in Tokio

Bianca Buitendag (27) het haarself Sondag verseker van minstens nog een dag as professionele branderplankryer, toe sy tot die derde ronde van die Olimpiese branderplank-kompetisie in Tokio deurgedring het.

Bianca Buitendag Sondag op die golwe in Tokio. Foto: Getty Images

Buitendag van Victoriabaai wat haar sport as haar grootste passie beskryf, het reeds voor die Spele aangedui dat die Tokio-skouspel die laaste hoofstuk in haar loopbaan sou wees.

Sy sê die Covid-19-inperking het haar laat besef dat sy nie meer van lughawe tot lughawe wil reis en uit ’n tas leef nie.

Hoeveel dae haar swanesang sou duur, kon sy natuurlik nie voorspel nie, maar sy het seker gemaak dat dit minstens twee is toe sy Sondag tweede in die kompetisie se tweede ronde geëindig het om tot die derde ronde deur te dring.

Dit sal Maandagoggend om middernag (SA tyd) plaasvind.

Daar wag wel in die derde ronde ’n hoë hekkie op Buitendag, in die vorm van die sewemalige wêreldkampioen Stephanie Gilmore, een van dié sport se grootste sterre.

Dié Aussie het Sondag kortpad na die derde ronde gevat deur haar eersteronde-uitdun te wen.

Die wenner van Buitendag en Gilmore se stryd sal deurdring tot Dinsdag se kwarteindronde.

Vir die Suid-Afrikaner is tyd op die golwe meer as net ’n tydverdryf. Dis vir haar terapie.

“Jy betree ’n ander wêreld as jy oor die kuslyn gaan – dit voel of jy alles agterlaat,” sê sy.

“Daar is vryheid daarin. Dis vir my die lekkerste ding, om my kop onder die water te druk en alles wat daardie dag, of daardie jaar, gebeur het, te laat weg was.”

Juis daardie ‘terapie’ het haar terug in balans gekry ná die afsterwe van haar pa, Colin, in Maart 2015.

“Professionele uitdagings is niks vergeleke met die persoonlike nie,” het sy ’n paar maande daarna aan die Wêreldsurfliga gesê. “Maar dis persoonlike struikelblokke wat die vuur van kompetisie stook en ’n atleet dryf om die afleiding wat sport kan bied te omhels. Die tien sekondes wanneer jy ’n golf ry is al tyd wat jy van die onhanteerbare hartseer kan ontsnap omdat instink jou brein oorneem. As ek surf dink ek nie, en die hartseer gaan vir ’n rukkie weg.”

Buitendag is die enigste Suid-Afrikaner wat die geskiedkundige eerste Olimpiese branderplankkompetisie meemaak, nadat Jordy Smith vroeër vandeesmaand onttrek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.