In 2008 was dit ons Paralimpiërs in groen Crocs. In 2016 het ons Olimpiërs in daai gewraakte “Ninja Turtle”-sweetpakke verdrink. Dis veilig om te sê Saskok en mode is nie altyd sinoniem nie.

Chad le Clos in 2016 op die Olimpiese podium in die omstrede “Ninja Turtle”-sweetpak. Mr Price Sport is daarmee getaak om ’n herhaling van die herrie rondom 2016 se sweetpakke in Tokio te verhoed. Foto: Gallo Images
Maar gelukkig lyk dit of die klas van 2021 soortgelyke vernedering gespaar sal word. Die land se Olimpiese ringkoppe gee vroeg in die jaar reeds aandag aan hul uitrustings vir die Tokio-skouspel.
Hulle het om die waarheid te sê met Mr Price ’n ooreenkoms gesluit wat alle internasionale multisport-byeenkomste tot en met 2024 se Spele in Frankryk dek.
Luidens ’n verklaring is dit die eerste keer dat Saskok hande vat met ’n plaaslike klereverskaffer, hoewel dit nie 100% waar is nie. In 2016 moes hulle inderhaas gaan aanklop by Sedgars, nadat die amptelike verskaffer, die omstrede 361, nie Saskok se volledige bestelling gelewer het nie.
Die Olimpiese liggaam het deurgeloop vir sy besluite om in 2012 en 2016 van Chinese maatskappye – onderskeidelik Erke en 361 – se dienste gebruik te maak, eerder as om ’n plaaslike verskaffer te vind.
Barry Hendricks, Saskok se president, het gesê dit was hierdie jaar vir hulle belangrik om ’n klere-vennootskap te sluit “met ’n trots Suid-Afrikaanse handelsmerk.
“Dit is ’n betekenisvolle gebeurtenis hierdie, met Span Suid-Afrika wat vir die eerste keer in ’n Suid-Afrikaanse handelsmerk sal deelneem aan die wêreld se grootste sportbyeenkoms.”
Dit moet ter wille van regverdigheid gemeld word dat Saskok darem reeds drie jaar gelede gewys het hulle kan leer uit hul foute. Voor die Statebondspele van 2018 in Australië is die atlete gevra vir insette in hul kleredrag en dit is in samewerking met Saskok se destydse atlete-verteenwoordiger, Natalie du Toit, ontwerp.
Die atlete is vanjaar weer betrek. Luidens die verklaring het Mr Price Sport die hulp van plaaslike ontwerpers en atlete ingeroep om met die ontwerp van vanjaar se kleredrag te help.
Die klere sal boonop beskikbaar wees in Mr Price-winkels, sodat Suid-Afrikaners in presiese replikas van die atlete se uitrustings voor die televisie kan inskuif om te sien hoe hul helde vaar.