Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Murray besnoei sy Olimpiese skedule
Die Kaapse driekamper Richard Murray sal Suid-Afrika nie meer in die invididuele kompetisie verteenwoordig nie. Foto: Red Bull

Die Olimpiese medaljewenner Henri Schoeman sal die Suid-Afrikaanse vaandel Maandagoggend (SA tyd) alleen dra in die Spele-driekamp vir mans nadat Richard Murray hom daaraan onttrek het.

Murray, wat vyf jaar gelede in Rio de Janeiro vierde was, het Vrydag op Twitter gesê hy sal hom in Tokio net op die span-afloskompetisie toespits.

Ek dink dis belangrik vir die span. Dit was ’n baie moeilike besluit, maar iets wat ek dink wys is vir my gesondheid.
Richard Murray

“My gesondheid/hart is nie gereed vir ’n kompetisie van twee ure nie en daarom sal ek op die aflos fokus,” het hy geskryf. “Ek dink dis belangrik vir die span. Dit was ’n baie moeilike besluit, maar iets wat ek dink wys is vir my gesondheid.”

Murray het vroeër vanjaar aangekondig atriale fibrillasie is by hom gediagnoseer, ’n toestand wat die ritme van sy hart versteur, en hy het net meer as ’n maand gelede ’n operasie daarvoor ondergaan.

Die 32-jarige Kapenaar het daarna gesê hy sou “al die moontlike doen om gesond te word, en nie myself druk nie. As ’n beroepsatleet weet ek my gesondheid kom altyd eerste.”

Murray het net vier maande voor die Rio-Spele sy sleutelbeen gebreek, en ná ’n merkwaardige herstel net-net nie ’n medalje gewen nie. Die idee dat hy vinnig van ’n hartoperasie kon herstel, was teen die agtergrond daarvan nie so onrealisties nie.

Henri Schoeman nadat hy in 2018 Statebond-goud gewen het. Foto: Getty Images

Hy het inderdaad genoegsaam herstel om na Tokio te reis, maar daar gekom, besluit dat twee operasies ’n hekkie te hoog is. Hy sal Schoeman (die bronsmedaljewenner in Rio de Janeiro) dus Maandag van die kantlyn aanmoedig en eers vyf dae later, op 31 Julie, deelneem in die gemengde-span-kompetisie.

Hy, Schoeman, Gillian Sanders en Simone Ackerman sal Suid-Afrika daarin verteenwoordig.

Murray se vrou, Rachel Klamer, is ook in Tokio om Nederland in die driekamp te verteenwoordig.

Schoeman, die heersende Statebond- en Afrika-kampioen, het sy visier in Maandag se individuele kompetisie op die goue medalje, nadat hy vir Tokio se drukkende hitte voorberei het met oefensessies op die warmste deel van die dag in Durban.

Hy het ook in ’n verhitte tent geoefen.

Schoeman is in die 13de plek op die wêreldranglys, maar het reeds tevore gewys hy hou sy heel beste vir die hoogste verhoog. Toe hy in Rio de Janeiro op die Olimpiese podium gestaan het, was dit die eerste keer dat hy ’n medalje in ’n internasionale driekamp-byeenkoms gewen het en hy is as ’n eendagvliegie beskou totdat hy twee jaar later die Statebond-titel verower het.

• Die mans se driekampbyeenkoms begin Sondag om 23:30 (SA tyd) en sal uitgesaai word op SS 201.

Kyk hier hoe Suid-Afrika oor die jare heen by die Olimpiese Spele gevaar het:

Olimpies
Suid-Afrika se deelname aan die Olimpiese Spele oor die jare.


Meer oor:  Richard Murray  |  Henri Schoeman  |  Tokio  |  Japan  |  Suid-Afrika  |  Onttrek  |  Driekamp  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.