
Die Olimpiese driekampatleet Richard Murray neem Sondag in die V&A Waterfront aan die SwimRun-byeenkoms deel. Foto: Caleb Bjergfelt
Soos die meeste sportlui, is die Suid-Afrikaanse Olimpiese driekamper Richard Murray op hete kole oor 2021 se Olimpiese Spele.
Die 30-jarige Murray het vanjaar die finansiële invloed van die koronavirus-pandemie gevoel, met talle byeenkomste wat nie kon plaasvind nie.
Die Kapenaar het Sondag aan SwimRun se uitklopbyeenkoms deelgeneem, wat by Battery Park in die V&A Waterfront in Kaapstad beslis is.
“Dit was ’n heel ander jaar. Hopelik sal die Spele volgende jaar plaasvind.
“Hopelik sal die Wêreldreeks ook gehou kan word.”
Dié reeks, waarin professionele driekampatlete wêreldwyd deelneem, het ook vanjaar in die slag gebly.
Die enigste byeenkoms wat kon plaasvind, was die een in September in Hamburg, Duitsland, wat toe terselfdertyd as die Wêreldkampioenskap gedien het.

Nick Quenet spring in die water. Hy was die algehele wenner. Foto: Caleb Bjergfelt
Die Fransman Vincent Luis het die byeenkoms gewen en Murray het sewende geëindig.
Die Kaapse sibbe Nick en Alexandra Quénet was Sondag bobaas in die SwimRun. Die roete van 1 000 m het bestaan uit vier hardloop- en drie swemskofte op die voetpaadjies en in die kanale.
Murray het in sy debuut by die byeenkoms tweede geëindig, en sy vrou, Rachel Klamer, ’n Nederlandse driekamper, was ook die naaswenner.

Deelnemers hardloop langs die kanale in die V&A Waterfront. Foto: Caleb Bjergfelt
Murray het in die ouderdomsgroep 30 tot 39 tweede geëindig ná Philippe Drolet.
Murray en Klamer, wat in Maart getroud is, sal soos gewoonlik vanaf einde Januarie saam met die Nederlandse driekampspan ’n oefenkamp in Windhoek bywoon.
“Ek het onlangs ’n YouTube-kanaal begin waar ek ons voorbereiding vir die Spele deel. Enigeen kan daar ons vordering dophou.
“Op Woensdae het ons stromingsessies waar ons vrae beantwoord,” sê Murray,
Sy kanaal is RD Murray.
• Die Wêreldreeks sal op 1 Mei in Chengdu, China, begin met ’n “sprint”-byeenkoms.
• In Swimrun is daar geen oorgang tussen die swem- en hardloopskofte nie. Jy swem met jou tekkies aan en hardloop in jou swembroek of lyfpak.
Die uitklopbyeenkoms was die eerste byeenkoms wat in die stad gehou is. Dit vind gewoonlik langs die Atlantiese kus plaas.
’n SwimRun-byeenkoms is ook geskeduleer om op 30 en 31 Januarie by Val de Vie buite die Paarl plaas te vind.