Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
My lyf het ophou werk, sê Chad

Dié een maak seer.

So het Chad le Clos gesê nadat hy Woensdagoggend in Tokio met die vyfde plek in die Olimpiese eindronde van die 200 m-vlinderslag tevrede moes wees.

Die 29-jarige Kapenaar was ná 100 m voor en ná 150 m steeds in die topdrie, maar kon nie in die pylvak sy stamina behou nie.

Ten spyte daarvan dat hy vir die eerste keer die week onder die 1:55-kerf was (met 1:54.93), het te veel van sy teenstanders meer in hul bene gehad.

“Ek het regtig goed gevoel – in ’n stadium het ek selfs gedink ek gaan wen,” het Le Clos aan SuperSport gesê. “Ek het gedink ek is terug.

“Maar ná die laaste draai het my bene ophou werk. Ek kon die ander ouens sien kom en het vir myself gesê, byt net vir nog 10 m vas. Dis sleg, maar dis die lewe.

Chad le Clos stap Woensdag terug kleedkamer toe nadat hy vyfde geëindig het in die eindronde van die 200 m-vlinderslag. Foto: Anton Geyser/SASI

“(Voor die resies) het ek fantasties gevoel, opgewonde soos altyd. Ek was glad nie op my senuwees nie. Dis maar net dat my lyf nie wou werk nie. Dit is wat dit is, daar’s niks wat jy daaraan kan doen nie.

“Ons het die afgelope jaar baie tragedies gehad, en dit is niks vergeleke daarmee nie, maar dit maak steeds baie seer. Hoewel dalk nie so seer soos vyf jaar terug nie (toe hy teen al die verwagtinge in vierde in die 200-vlinderslag was).”

Le Clos het in ’n stadium in die afgelope Olimpiese siklus gesê hy wil ná die Tokio-skouspel meer konsentreer op ’n nommer soos die 100-vryslag, en die 200-vlinderslag die rug toekeer.

Ná hierdie teleurstelling klink hy egter meer vasberade as ooit om verder te bou aan sy erfenis in laasgenoemde. Dit is die nommer waarin hy nege jaar gelede die Olimpiese kampioen was, en dit het ’n baie spesiale plek in sy hart.

Op ’n direkte vraag of Woensdag s’n sy laaste resies in die 200-vlinderslag was, het Le Clos gesê: “Nee, ’n mens kan dit nie so eindig nie. As ek gewen het, sou dit my laaste gewees het.

“Ek sal terug wees, dis nie ’n probleem nie. Dis nie die einde nie.

“Ons sal dit volgende jaar op die Statebondspele wen. Ons sal almal weer gaan herinner (in Birmingham) – en dalk is dit dán my laaste een. Ek sien uit daarna om meer in die 100-vryslag en 100-vlinderslag te swem, maar ons sal sien.”

Die 100-vlinderslag wag juis steeds op Le Clos in Tokio – en nadat hy die uitdunne, halfeindronde én eindronde van die 200 m sterk begin het, kan hy dalk tog in die korter nommer iets spesiaals vermag.

Die uitdunne van dié nommer vind Donderdagmiddag plaas.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker  |  Chad Le Clos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.