Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Nog 3 van SA kwalifiseer vir Tokio-Spele

Suid-Afrika se span vir die Olimpiese Spele in Tokio het verder gestalte gekry toe nog drie atlete vir sport se grootste skouspel gekwalifiseer het.

Die gewigstoter Kyle Blignaut en die mans se viertal-roeispan het die naweek indrukwekkende vertonings gelewer wat hulle nou sal toelaat om Olimpiese glorie in Julie en Augustus na te jaag.

Kyle Blignaut in 2018 in die o.20-Wêreldkampioenskappe in Tampere. Foto: Gallo Images

Blignaut het die maatband in die Suid-Afrikaanse studente-kampioenskappe tot 21,21 m laat rek om hom by sy boesemvriend Jason van Rooyen, wat onlangs ook sy kaartjie na Tokio bespreek het, aan te sluit.

Blignaut, ’n voormalige o.20-wêreldkampioen dreig al ’n geruime tyd om sy deurbraak op senior vlak te maak, maar hy het al verskeie kere net-net nie die kwalifiserende vereiste gehaal nie.

Hy het egter Saterdag enige twyfel oor sy vermoëns om die Spele-span te haal nek omgedraai toe hy nie net een keer nie, maar twee keer in dieselfde kompetisie Wêreldatletiek se kwalifiserende vereiste van 21,10 m oortref het.

Sy deurbraak was in die vierde ronde met ’n afstand van 21,14 m voordat hy twee pogings later nog sewe sentimeter bygevoeg het.

Van Rooyen was met ’n poging van 20,87 m die naasbeste op die byeenkoms. Hy het reeds op 29 April met ’n afstand van 21,14 m die vereistes oortref.

“Ek is baie bly oor die vertonings die afgelope naweek,” het James Moloi, Atletiek Suid-Afrika (ASA) se president, gesê.

Dit kom nadat die naelloper Gift Leotlela ook Vrydag in ’n blitsige 9.94 sekondes vir die 100 m gekwalifiseer het.

“Dit was nie maklik vir ons atlete om tydens die inperking te oefen en aan elite-kompetisies deel te neem nie. Dit is nou ’n wedloop teen tyd vir baie atlete om soveel as moontlik deel te neem,” het Moloi bygevoeg.

Dit is nou ’n wedloop teen tyd vir baie atlete om soveel as moontlik deel te neem.
James Moloi

In roei het die manspan van Lawrence Brittain, Kyle Schoonbee, John Smith en Sandro Torrente in Lucerne in Switserland in die Olimpiese kwalifiserende regatta goud gewen.

Hiermee het hulle ook in dié nommer vir die Spele gekwalifiseer.

Smith en Brittain het in die Wêreldkampioenskappe reeds hul plekke as roeipaar bespreek, maar het nou gesorg dat Schoonbee en Torrente saam met hulle na Tokio gaan.

Hulle was onoorwonne in die uitdunne, halfeindronde en eindronde.

In die eindronde het die Suid-Afrikaners vroeg die voortou geneem met Kanada en Frankryk op hul hakke, maar nooit teruggekyk nie.

Ofskoon hulle eindelik net met twee sekondes gewen het, was die Suid-Afrikaners se ervaring deurslaggewend.

“Ons gaan Tokio toe vir een rede en dit is om te wen,” het Schoonbee agterna luidens ’n verklaring van TuksSport gesê.

Dié span kan met reg vol selfvertroue wees.

In 2012 in Londen het Suid-Afrika goud gewen in die liggewig-viere, met Smith wat deel van daardie span was.

In 2016 in Rio de Janeiro het die roeipaar en Tuks-atlete Brittain en Shaun Keeling silwer gewen.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Kyle Blignaut  |  Atletiek  |  James Moloi  |  Roei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.