Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
'Nou kan Wayde nóg beter by Spele opdaag'

Die Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk sê dis jammer dat hy nou ’n jaar langer sal moet wag om sy titel te verdedig, maar hy en sy afrigter sien ook positiewes in die uitstel van die Olimpiese spele.

Van Niekerk se afrigter, Ans Botha, het Woensdag gesê haar atleet sal die 21 dae van inperking wat Donderdagnag begin, gebruik om heeltemal af te skakel en sy liggaam ’n blaaskans te gee.

Die A-span! Wayde van Niekerk en Ans Botha bly albei steeds positief nadat die Olimpiese Spele in Tokio uitgestel is tot 2021. Foto: Gallo Images

“Hy is nou op ’n plek waar 21 dae van algehele rus absoluut geen afbreuk sal doen aan die basis waaraan ons die laaste tyd so hard gewerk het nie,” sê Botha. “(Die inperking) bied ons ’n geleentheid om hom af te haal (van sy oefenprogram) sodat sy liggaam weer reserwes kan bou.

“Wat die uitstel van die Spele betref het ons nou die kans om Wayde beter en sterker te kry. Ek glo en vertrou alles sal goed uitwerk en dat hy gereed sal wees om sy heel beste te lewer wanneer die Olimpiese Spele plaasvind. Ek en Wayde is op dieselfde golflengte daaroor. Ons glo dinge gebeur nie sonder ’n spesifieke rede of doel nie.”

Ek het nou meer tyd om voor te berei, te werk en in die res van my loopbaan te belê – meer tyd om sterker te word en nóg beter te wees by die Olimpiese Spele.

Hoewel die Spele nou amptelik uitgestel is, hoop Botha Wêreldatletiek kan van sy Diamantliga-byeenkomste na die einde van die jaar skuif.

“Ons wil graag vanjaar ’n wedloop of drie op internasionale vlak inwerk om Wayde weer in die roetine te kry van deelneem op daardie vlak. Natuurlik hang dit af van die situasie in die wêreld in daardie stadium en of dit veilig gaan wees om Europa toe te gaan.”

Van Niekerk sê vir almal is die eerste prioriteit nou om hulself teen die virus te beskerm.

“Ons almal in die wêreld moet nou net gesond probeer bly en nie die virus versprei nie,” het Van Niekerk volgens Sport24 gesê. “Dis regtig nou belangriker as enige oefening of wedlope.”

Ans Botha, Wayde van Niekerk se afrigter, in 2017 voordat die Springbokke die All Blacks gepak het op Nuweland. Foto: Gallo Images

Van Niekerk se laaste internasionale wedloop was op 10 Augustus 2017 in die eindronde van die 200 m by atletiek se Wêreldkampioenskap in Londen. Hy het toe die silwer medalje gevoeg by die goud wat hy twee dae voor dit in die 400 m verower het.

Nadat hy later daardie jaar ’n kniebesering in ’n raakrugbywedstryd opgedoen het, het hy 2018 se Statebondspele en 2019 se Wêreldkampioenskap gemis.

Nou het ’n situasie wat heeltemal uit sy hande is, sy terugkeer na die internasionale verhoog verder vertraag, maar Van Niekerk is nie in sak en as daaroor nie.

Hy erken hy is teleurgesteld dat die Spele nie vanjaar gaan plaasvind nie, maar hy is ook verlig dat dit nie heeltemal afgestel is nie.

“Ek probeer die positiewe kant sien. Ek het nou meer tyd om voor te berei, te werk en in die res van my loopbaan te belê – meer tyd om sterker te word en nóg beter te wees by die Olimpiese Spele. Tokio is net nog ’n tree in die hele nalatenskap wat ek wil laat.”

Akani Simbine. Foto: Reuters

* Van Niekerk se goeie vriend, die naelloop-ster Akani Simbine, het ook gemengde gevoelens oor die uitstel van die Spele.

“Ek is aan albei kante van die draad daaroor,” het hy volgens Sport24 gesê.

“Ek is bly dit is uitgestel, want die jaar was sover vol onstuimigheid. Jy kan nie regtig oefen soos jy moet met al die ontwrigtings wat die koronavirus veroorsaak het nie.

“Maar ek is ook nogal hartseer daaroor, want dit was die jaar waarna ons opgebou het. Om nou nog ’n jaar te wag, was nie deel van ons planne nie.”

Meer oor:  Akani Simbine  |  Ans Botha  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Tokio Spele  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.