Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Nuwe verhouding met pa stu Jacobs

“Dis ’n droom, dis ’n droom – dis fantasties! Miskien sal ek môre kan glo wat almal sê, maar vandag is dit ongelooflik.”

Marcell Jacobs vier sy sukses in die Olimpiese eindronde van die 100 m, wat hy Sondag met ’n nuwe Europese rekord gewen het. Foto: Getty Images

Die Italianer Marcell Jacobs was net so verras soos die res van die wêreld nadat hy Sondagmiddag die troon wat Usain Bolt in die 100 m vakant gelaat het, bestyg het.

Die 26-jarige het Sondag net 9.80 sekondes (’n nuwe Europese rekord) nodig gehad om sy naam op die wêreld se lippe te kry. In die wedloop van sy lewe het hy meer geroemde naellopers soos die Amerikaner Fred Kerley (9.84), die Kanadees Andre de Grasse (9.89) en Suid-Afrika se Akani Simbine (9.93) in sy stof laat stik.

Die verbasing oor sy sukses was nie ’n teken van disrespek nie, maar spruit daaruit dat Jacobs Sondag in sy heel eerste groot 100-eindronde verskyn het, en sy grootste hoogtepunt voor dit ’n plek in die halfeindronde by 2019 se Wêreldkampioenskappe was.

Sy naam is meer bekend aan verspring-entoesiaste as diegene wat eerder naellope kies, en tot so onlangs as verlede jaar het hy nog sy merk in die sandput ook probeer maak.

Maar al was hy daarin goed genoeg om saam met iemand soos 2012 se Olimpiese kampioen, Greg Rutherford, deel te neem, het naellope ’n groter deel van sy hart begin opneem.

“Wanneer jy ’n kind is, droom jy daarvan om ’n goue medalje te wen. En toe ek begin atletiek doen, was my droom Olimpiese goud,” het Jacobs Sondag in sy nuuskonferensie gesê.

“Daardie tyd het ek verspring gedoen en tot twee jaar terug was my ambisie om daarin te wen. Maar toe het ek ’n paar ongelukkies gehad en besluit dit kan dalk moeiliker wees as wat ek gedink het. Tog gee mens nooit jou drome so makik op nie en kan jy droom wat jy wil. Wanneer dit begin waar word, is dit ’n ongelooflike gevoel.”

Die hoogspringer Gianmarco Tamberi val Jacobs om die hals, nadat hulle binne enkele minute twee goued medaljes vir Italië verower het. Foto: Reuters

Jacobs is in Texas gebore as die seun van ’n Italiaanse ma en ’n Amerikaanse pa, maar was net ’n paar maande oud toe sy ma hom na haar geboorteland geneem het.

Hy het vir jare nie ’n verhouding met sy pa (wie se name, Lamont Marcell, hy gekry het) gehad nie en hom as ’n vreemdeling beskou.

Maar ’n vermaning deur ’n sportsielkundige dat hy ’n verhouding met sy pa moet bou as hy beter op die atletiekbaan wil vaar, het dít verander.

“Al ons kwessies is nog nie uitgeklaar nie, maar minstens kommunikeer ons nou,” het hy vroeër vanjaar aan Italy24news.com gesê. “Of eerder, ek knip en plak: die Google-vertaler help my wanneer ek nie verstaan (wat Jacobs snr. skryf) nie.”

In sy nuuskonferensie Sondag het hy die herstel van hul verhouding as ’n katalisator vir sy sukses beskryf.

“Ons het nou nader aan mekaar geraak en dit het my die energie en wilskrag gegee om alles moontlik te doen sodat ek vandag hier kan wees,” het hy gesê.

Jacobs se sukses was die kersie op die koek vir Italië, wat net ’n paar minute vroeër reeds kon feesvier oor ’n goue medalje in die hoogspring.

Gianmarco Tamberi, wie se droom van Olimpiese goud drie weke voor die Rio-Spele van 2016 verydel is deur ’n ernstige enkelbesering, het ’n vyf jaar oue droom bewaarheid toe hy Sondag as een van vanjaar se twee hoogspring-kampioene gekroon is.

Tamberi en Katar se Mutaz Barshim het besluit om die titel te deel nadat albei suksesvol was op 2,37 m en gefaal het op 2,39 n.

Tamberi was nog besig om sy triomf te laat insink toe Jacobs wegspring in die 100 m – en was eerste daar om sy landgenoot met ’n vet druk geluk te wens.

“Om te sien wat Gianmarco gedoen het, was ’n massiewe hupstoot,” het Jacobs gesê. “Ons ken sy storie – hy kon gewen het in Rio, maar het ’n besering gehad. Dat ons albei gewen het, is fantasties vir Italië. Ek dink daar gaan nou ’n partytjie wees soos vir die sokker (ná Italië verlede maand die Euro2020-titel gewen het).”

Meer oor:  Akani Simbine  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Usain Bolt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.