Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Michaela wil deure oopmaak vir haar ma
Michaela Whitebooi se Olimpiese droom sal Saterdag bewaarheid word. Foto: Argief

Die 25-jarige judoka Michaela Whitebooi se Spele sal Saterdag begin – en Saterdag eindig. Maar al sal sy waarskynlik net enkele minute op die Olimpiese mat deurbring, bars sy uit haar nate van opgewondenheid oor wat op haar wag.

Whitebooi, ’n Tuks-student wat minder as 1,6 meter in haar sokkies staan, sal Suid-Afrika in die 48 kg-kategorie van die judo verteenwoordig as beloning vir jare van opofferings, vasbyt en harde werk.

Die jong judoka is oorspronklik van Gqeberha, maar het as 14-jarige na Pretoria verhuis om by Tuks se judo-akademie aan te sluit.

“Dit was vreesaanjaend, maar die feit dat ek Suid-Afrika nou by die Olimpiese Spele gaan verteenwoordig, is ’n bewys dat dit die regte besluit was,” het sy vroeër vandeesmaand in ’n Tuks-verklaring gesê.

“Ek sal nooit weet hoe my lewe sou verloop het as dit nie vir judo was nie, maar ek weet daar is baie jong meisies van my grootwordplek wat nie die geleentheid het om skool te voltooi en verder te studeer nie. Party moet ophou skoolgaan om hul families te onderhou.”

Whitebooi het aan die Tuks-skool gematrikuleer en sedertdien grade in finansiële bestuur en interne ouditkunde verwerf. Sy is nou besig met ’n nagraadse diploma in entrepreneurskap.

Die jong judoka bestempel haar ma, Minnie, ’n huiswerker wat die rol van albei ouers moes aanneem ná haar man se afsterwe 14 jaar gelede, as haar grootste heldin.

Sy is my heldin, want sy gooi nooit tou op nie. Judo het my die kans gegee om haar lewe beter te maak en dis waarom ek myself aanhou druk om beter te raak.
Michaela Whitebooi

“Ek hoop (die Spele) maak meer deure oop waardeur ek ter wille van my ma kan loop,” sê sy. “Sy is my heldin, want sy gooi nooit tou op nie. Judo het my die kans gegee om haar lewe beter te maak en dis waarom ek myself aanhou druk om beter te raak.”

Met Whitebooi se eerste droom – om by die Spele uit te kom – bewaarheid, hoop sy nou die ervaring duur meer as net ’n paar sekondes.

Die 48 kg-kategorie sal reeds teen Saterdagaand klaar wees, maar Michaela en haar afrigter, die Bulgaar Nicola Filipov, verwag nie dat sy in die medaljestryde in aksie sal wees nie.

Die Tuks-judoka Michaela Whitebooi het ’n goue medalje op die Afrika-judobyeenkoms in Kaapstad gewen. Foto: Reg Caldecott

“Ek sal baie, baie, baie bly wees as sy een geveg wen en die laaste 16 haal,” het Filipov (wat Bulgarye in 1992 se Spele verteenwoordig het en sedert 2000 in Suid-Afrika woon) aan TeamSA gesê. “As sy twee keer wen, sal dit die hoogtepunt van my loopbaan wees.

“Die feit dat sy hier is, as lid van die top-32 in die wêreld, is reeds ’n merkwaardige prestasie. Sy is net 25 en sal oor drie jaar fisiek op haar kruin wees. Ek verwag van haar om in 2024 in Parys ’n medalje te wen, 100% so.”

Whitebooi moes in haar voorbereiding vir die Olimpiese Spele ’n paar uitdagings oorkom. Sy het in Maart Covid-19 gekry en hoewel sy nie baie siek was nie, het sy twee toernooie misgeloop.

Dít, en verlede jaar se streng inperkings, is waarom Filipov hul verwagtinge in Tokio laag hou.

“Jy moet die agtergrond verstaan. Sy is sleg geraak deur die Covid-inperkings. Ons was nog ingeperk toe die res van die wêreld al weer ‘oop’ was. In ander lande kon hulle oefen en meeding, terwyl ons vir baie maande in my agterplaas moes werk omdat alles toe was.

Dis hoekom ek sê ek sal in die wolke wees as sy die laaste 16 haal. Dit sal vir my wees soos om vyf nommers in die Lotto te kry – en die Powerball.
Nicola Filipov

“Dis hoekom ek sê ek sal in die wolke wees as sy die laaste 16 haal. Dit sal vir my wees soos om vyf nommers in die Lotto te kry – en die Powerball.”

Whitebooi sê sy weet sy is ’n buiteperd in Tokio.

“Ek wil nie enige gevegte in Tokio verloor nie, maar ek moet eerlik wees en erken ek is die grootste van buiteperde. Tog . . . jy kan na my kyk en dink ek sal nie baie hard baklei nie, maar as jy dit dink, is jy verkeerd. Ek is mal oor baklei en bang vir niemand,” sê sy.

Meer oor:  Michaela Whitebooi  |  Nicola Filipov  |  Japan  |  Pretoria  |  Tokio  |  Judoka  |  Buiteperd  |  46 Kg  |  Tuks  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.