Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Oostenryker laat oë rek in Spele-gholf

Daar is geen tekort aan wêreldsterre by vandeesweek se Olimpiese gholfkompetisie vir mans nie. Tog was dit ’n 28-jarige Oostenryker wat net 161ste op die wêreldranglys is en die afsnypunt in ses van sy laaste sewe toernooie misgeloop het, wat die kollig in die eerste ronde gesteel het.

Sepp Straka gee ná 18 putjies by die Kasoemigaseki-buiteklub die pas op die voorlopersbord aan, danksy ’n skitterende eerste ronde van 63 (agt houe minder as baansyfer). Hy het agt voëltjies in ’n foutlose ronde aangeteken om die Olimpiese rekord te ewenaar, op ’n oggend perfek vir gholf.

Oostenryk se Sepp Straka het die Olimpiese rekord geëwenaar danksy ’n vuurwarm setyster. Foto: Getty Images

Boonop het hy ’n kans gehad om die rekord te verbeter wat Matt Kuchar en Marcus Fraser in 2016 in Rio de Janeiro opgestel het. Sy voëltjie-sethou op die 18de putjie het egter om die randjie van die blikkie gerol en nie geval nie.

Voor dít het sy setyster hom egter nooit laat frons nie – en daardie een stukkie ongeluk was nie genoeg om die glimlag van sy gesig te vee nie.

“Ek het nie die laaste paar weke wonderlik gespeel in die PGA-reeks nie, maar (Donderdag) was my setwerk regtig ’n wapen,” het hy gesê. “Ek het my set-roetine verander, en dit het regtig goed gewerk.

“Dit was net ’n lekker bestendige ronde. Ek het die bal nie regtig so goed geslaan nie, maar myself darem ook nooit in die moeilikheid gekry nie. Die groot ding was dat die setyster vuurwarm was.”

Thailand se Jazz Janewattananond was aan die einde van die dag ’n hou agter Straka, danksy sewe voëltjies, met die Belg Thomas Pieters en Mexiko se Carlos Ortiz ’n verdere hou terug in die gesamentlike derde plek.

Die Delmas-boorling Christiaan Bezuidenhout is in die gesamentlike 12de plek ná die eerste ronde van die Olimpiese gholfkompetisie. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het 68 houe gespeel om saam met onder andere die Amerikaners Xander Schauffele en Patrick Reed en die opwindende jong Noorweër Viktor Hovland in die gesamentlike 12de plek te lê.

Garrick Higgo, wie se ronde ná 14 putjies onderbreek is toe die spelers weens dreigende onweer van die baan geroep is, het eindelik geteken vir ’n 71 (gelyk aan syfer). Justin Thomas en Cameron Smith tel onder die spelers met wie hy die 41ste plek deel.

Die Iere Rory McIlroy en Shane Lowry het onderskeidelik 69 en 70 houe gespeel. Die nuwe Britse Ope-kampioen, Collin Morikawa, en Japan se Amerikaanse Meesterskampioen, Hideki Matsuyama, het ook 69’s op hul telkaarte ingevul.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.