Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Penny: Tatjana ’n voorbeeld vir jonges

Die Suid-Afrikaanse borsslaglegende Penny Heyns sê Tatjana Schoenmaker is iemand na wie jong swemmers kan opkyk – en nie net vir die vertonings wat haar Dinsdag op die Olimpiese podium gekry het nie.

Tatjana Schoenmaker Dinsdag met haar nuwe Olimpiese silwermedalje. Foto: Getty Images

“Ek is baie trots (op Tatjana),” het Heyns, ’n dubbele Olimpiese kampioen in 1996, aan die internasionale swemliggaam (Fina) se amptelike webblad gesê nadat haar jong landgenoot in die 100 m-borsslag silwer gewen het.

“Ek is om die waarheid te sê baie emosioneel – en dis iets wat ek nooit met my eie renne gevoel het nie,” sê sy.

“Die trots is nie net oor Tatjana se vertonings nie, dis ook vir die mens wat sy is. Haar sportmansgees is merkwaardig. Sy is ’n baie goeie voorbeeld vir jong swemmers om te volg.”

Heyns, wat in 1996 in Atlanta Olimpiese goud in die 100 m- en 200 m-borsslag gewen het, sê sy het Schoenmaker jare gelede by ’n Afrika-kompetisie vir die eerste keer gesien swem en vir almal vertel die opkomende borsslag-swemmer het ’n briljante toekoms voor haar.

“Oor die jare was Tatjana oukei, maar toe het sy net skielik begin verbeter. Ek dink die 1:04.8 wat sy in die uitdunne geswem het (vir ’n nuwe Olimpiese en Afrika-rekord), was vir haar ’n groot verrassing, want sy het haarself nooit as ’n 100 m-borsslagswemmer beskou nie. Maar dit wys net hoe goed haar spoed is,” sê Heyns.

“In die eindronde het die senuwees haar dalk ’n bietjie gevang – sy het ná haar halfeind vir my gesê sy het opgewen gevoel. En ongelukkig was (Lydia Jacoby se) wentyd ’n tiende van ’n sekonde stadiger as haar Olimpiese rekord, so dis iets waaraan sy vir altyd sal dink.”

Penny Heyns en Tatjana Schoenmaker vroeër vandeesweek langs Tokio se Olimpiese swembad. Foto: Twitter

Heyns sê sy is nou baie opgewonde om Schoenmaker in die 200 m-borsslag in aksie te sien. Die uitdunne daarvan word Woensdagmiddag gehou.

“Dit gaan ’n baie interessante kompetisie wees, want sy het in die 100 met ’n volle sekonde verbeter sedert Suid-Afrika se nasionale kampioenskap. Ek wil nie voorspellings maak nie, maar sy is beslis een van die gunstelinge in die 200 en ek glo sy kan daarin beter vaar (as in die 100).”

Schoenmaker se medalje is Suid-Afrika se eerste van die Tokio-Spele, en die land se eerste silwerware is nou in vyf van die laaste sewe Spele deur borsslagswemmers gelewer (Heyns in 1996 en 2000 en Cameron van der Burgh in 2012 en 2016). Heyns kan self ook nie ’n verklaring gee vir waarom die land so uitblink in dié dissipline nie.

“Hoekom borsslag? Ek het geen idee nie! Dis waar, behalwe vir Chad (le Clos) is al die ander (SA medaljewenners by onlangse Spele) borsslagswemmers. Vanjaar is die enigste item waarin ons twee vroulike swemmers het, ook die 200-borsslag (Schoenmaker en Kaylene Corbett).

“Borsslagswemmers is baie vreemde mense,” sê sy. “Jy is óf as een gebore óf jy is nie. Jy wórd nie ’n borsslagswemmer nie.”

Schoenmaker maak geen geheim daarvan dat sy Heyns as ’n inspirasie beskou nie, maar die ouer vrou is alte bewus daarvan dat hulle uit verskillende generasies kom.

“Sy is ’n jaar ná die Atlanta-Spele gebore. Ek voel nog jonk, maar in haar oë moet ek ’n ou tannie wees,” het Heyns laat hoor. “Dalk identifiseer sy meer met Cameron of Chad, wat nader aan haar generasie is.”

• Schoenmaker sal Woensdag om 12:49 in die uitdunne van die 200-borsslag in aksie wees.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker  |  Penny Heyns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.