Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Pole gee visum aan verstote Spele-atleet

Die Olimpiese atleet van Belarus wat geweier het om op ’n vliegtuig te klim nadat haar span haar teen haar wil na die lughawe geneem het, sal Woensdag na Pole reis.

Die Belarussiese Olimpiese atleet Krystsina Tsimanouskaya gaan die Poolse ambassade in Tokio binne. Foto: Reuters

Die naelloper Krystsina Tsimanouskaya (24) het Maandag haar toevlug in die Poolse ambassade geneem en ’n visum is in Warskou aan haar toegestaan.

Tsimanouskaya, wat veronderstel was om Maandag in die uitdunne van die 200 m deel te neem, se Spele is kortgeknip toe sy Sondag na die lughawe geneem is nadat sy haar span se afrigters kritiseer het.

“Sy sal op 4 Augustus direk vanuit Tokio na Warskou vlieg,” sê Aleksandr Opeykin, voorsitter van die Belarussiese Sportsolidariteitstigting (BSSF).

“Sy het die regering in Warskou se aanbod om hulp aanvaar en ontvang vandag haar Poolse visum. Die BSSF het haar gehelp om ’n vliegtuigkaartjie na Warskou te bekom.”

Volgens ’n bron in die BSSF, wat ondersteuning bied aan verstote atlete en sportlui wat weens hul politieke oortuigings in die tronk beland het, beplan Tsimanouskaya om in Duitsland of Oostenryk om asiel aansoek te doen.

“Sy is ’n jong, suksesvolle sportvrou en uiteraard wil sy haar loopbaan voortsit, so sy sal iewers moet aanhou oefen en ontwikkel,” sê Opeykin.

Pawel Jablonski, Pole se adjunkminister van buitelandse sake, sê: “Ek kan bevestig dat ons ’n visum uitgereik het en dat ons al die nodige ondersteuning in Pole sal bied indien sy besluit om dit te gebruik.”

Krystsina Tsimanouskaya sê sy weier om na haar geboorteland terug te keer. Foto: Getty Images

Tsimanouskaya se man, Arseni Zhdanevich, sal hom in Pole by haar aansluit.

Tsimanouskaya sê sy is uit die span verwyder omdat sy haar uitgelaat het oor die nalatigheid van haar afrigters. Sy is glo sonder haar medewete in die 4x400 m-aflosspan ingesluit.

Tsimanouskaya sê die hoofafrigter van die Belarussiese span het haar Sondag in haar kamer in die Speledorp besoek en vir haar gesê sy moet vertrek.

“Die hoofafrigter het vir my gesê daar het ’n bevel van bo gekom om my te verwyder. Hulle het laatmiddag na my kamer gekom en vir my gesê ek moet pak en my na die lughawe geneem.”

Sy het egter geweier om op die vliegtuig te klim.

“Ek sal nie na Belarus terugkeer nie,” sê sy.

Die Belarussiese Olimpiese Komitee sê in ’n verklaring afrigters het besluit om Tsimanouskaya van die Spele te onttrek nadat dokters hulle gewaarsku het oor haar “emosionele en geestelike toestand”. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.