Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Ringkop braak gal oor Aussies se gefuif

Die “onaanvaarbare” gedrag van dronk Australiese rugby- en sokkerspelers op ’n vlug van die Olimpiese Spele in Tokio, sal deur dié sportkodes se nasionale beheerliggame ondersoek word.

Die Australiese mansewesrugbyspan hou kajuitraad by die Olimpiese Spele in Tokio. Foto: Getty Images

Dié versekering kom van Ian Chesterman, vise-president van die Australiese Olimpiese Komitee (AOC), nadat ’n aantal sportlui hulle onder meer skuldig gemaak het aan strawwe drinkery, weiering om maskers te dra en die weiering om gehoor te gee aan vlugpersoneel.

Dit het Donderdag plaasgevind tydens ’n vlug van Japan Airlines (JAL).

“Dié tipe gedrag is totaal onaanvaarbaar en voldoen nie aan die standaarde wat deur ons as ’n span gestel word nie,” het Chesterman op ’n mediakonferensie gesê.

“Dít is ’n trotse span, wat briljant vertoon het tydens ’n baie moeilike voorbereidingstyd. Die meeste het hulle op en weg van die veld baie goed gedra.

“Daar is goeie mense in die rugby- en sokkerspanne, maar sommige het duidelik slegte keuses gemaak, soos wat jong mense van tyd tot tyd maak. Ek hoop hulle sal in die toekoms beter besluite neem.”

Daar was 49 sportlui van nege sportkodes op die vlug, wat Vrydag in Sydney geland het.

Chesterman sê die AOC is deur JAL ingelig oor die voorvalle, maar dat die lugdiens nie formele klagtes ingedien het nie en sal voortgaan om Australiese sportlui van Tokio na Sydney te vervoer.

Die wangedrag op die JAL-vlug volg ná voorvalle waar Australiese rugbyspelers en roeiers kamers in die Speledorp beskadig het toe hulle ná hul deelname feesgevier het.

Volgens Chesterman het die roeiers om verskoning gevra vir hul gedrag.

“Ek dink daar is aanvaarbare maniere om ontslae te raak van die stres wat gepaardgaan met ’n Olimpiese veldtog,” sê Chesterman.

Marika Koroibete, die Wallabies se staatmaker-vleuel, is die trekpas gegee omdat hy en twee ander spanmaats die span se interne drankreëls oortree het. Foto: Getty Images

“Maar dit is heeltemal onaanvaarbaar om jouself te gedra op ’n manier wat ongerief vir ander mense veroorsaak. ’n Paar mense beskadig die reputasie van ’n baie sterk span.”

Australië se mansewesrugbyspan het in die kwarteindronde van die toernooi in Tokio vasgeval.

• Rugby Australië is nog verder in die verleentheid gedompel toe drie Wallabies, insluitende die ster-vleuel Marika Koroibete, weggelaat is uit die span vir Saterdag se Bledisloebeker-stryd teen die All Blacks in Auckland nadat hulle die span se interne reëls oor alkoholverbruik oortree het.

Luidens berigte in die Australiese media het die Wallaby-span aandete en ’n paar drankies in hul hotel genuttig, maar het Koroibete, Pone Fa’ amausili en Isi Naisarani tot lank ná die “ooreengekome tyd” aanhou drink.

“Ons bou ’n kultuur waarin spelers hard vir mekaar werk en aanspreeklik gehou word vir hul dade. Hierdie drie spelers het nie voldoen aan die standaarde wat ons vir onsself stel nie en sal derhalwe nou ’n groot prys daarvoor moet betaal,” het Dave Rennie, die Wallabies se afrigter, luidens ’n verklaring van Rugby Australië gesê. – Reuters; Sportredaksie

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Koronavirus  |  Tokio-Spele  |  Iok  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.