Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Rio se Spele-stadions van 2016 verval
Een van die stadions in Rio de Janeiro wat sedert die Spele nie meer gebruik word nie en weens gebrek aan instandhouding besig is om te verval. Foto: Getty Images

Sommige stadions wat vir 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro opgerig is, is besig om uitmekaar te val en Brasilië het tot dusver in sy plan misluk om na dié skouspel sy nuwe sportgeriewe behoorlik te benut.

Só het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) by monde van sy uitvoerende hoof, Christophe Dubi, Sondag in ’n verrassend openhartige onderhoud gesê.

Dubi het erken die planne om verskeie nuwe stadions en geriewe na die Spele behoorlik te benut of nuwe gebruike daarvoor te vind, het bloot planne op skrif gebly.

“Die noukeurige planne wat in detail beskryf hoe die geriewe hergebruik gaan word, is grootliks nie verwesenlik nie,” het hy aan verslaggewers by die Olimpiese Winterspele in Pjeongtsjang, Suid-Korea gesê.

Dubi sê ofskoon die stad ná die Spele groot voordeel getrek het uit die beter openbare vervoer- en telekommunikasiestelsels, word verskeie sportstadions en -geriewe na dese nie gebruik of in stand gehou nie.

“Tydelike strukture is nie na die Spele afgebreek nie. Dit staan nou net daar, besig om stuk-stuk te verval. Weens politieke onstuimigheid en maatskaplike en ekonomiese uitdagings word daar niks omtrent die situasie gedoen nie.”

Weens politieke onstuimigheid en maatskaplike en ekonomiese uitdagings word daar niks omtrent die situasie gedoen nie.
Christophe Dubi

Brasilië het ongekende ekonomiese groei getoon kort nadat die Olimpiese Spele in 2009 aan die land toegeken is. Maar rondom 2016 het ’n vernietigende resessie, die ergste in dekades, die land se ekonomie lamgelê en tot politieke onstabiliteit gelei.

Misdaad vier hoogty in die land en die moordsyfer in Rio alleen het sedert 2016 met 8% gestyg (en sedert 2015 met 25%).

“Die nalatenskap van 2016 se Spele is nie op koers nie," aldus Dubi.

Om skande by skade te voeg moet Rio se Olimpiese baas, Carlos Nuzman, vir jare lank ’n gerespekteerde IOK-lid, nog in die hof verskyn vir sy rol in ’n korrupsieskandaal waar daar omkoopgeld betaal is om stemme vir Rio te werf.

Nuzman ontken skuld, maar in ’n klopjag op sy huis het polisielede op goudstawe, ’n Russiese paspoort en verskeie skootrekenaars beslag gelê.

Die eens indrukwekkende watersportarena in Rio staan in ongebruik en is erg verwaarloos. Foto: Getty Images

Die ikoniese Maracana-sokkerstadion het na die Spele kwaai onder vandale deurgeloop. Die Olimpiese park wat vir die Spele opgerig is, staan die afgelope 18 maande sedert die skouspel agter slot en grendel.

Die fietsrenstadion is in November verlede jaar erg beskadig toe ’n tweede brand daar uitgebreek het – brandstigting word vermoed. Die watersportarena staan ook in ongebruik en is erg verwaarloos.

Die IOK-president, Thomas Bach, het einde 2017 ’n beroep op lidlande gedoen op geduld te hê met Brasilië se oorerwingsplan, gegewe die politieke en ekonomiese onsekerheid wat in die land heers. – Reuters

Meer oor:  Rio De Janeiro  |  Iok  |  Winterspele  |  Olimpiese Spele  |  Erflating
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.