Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA aflosspan: Geen Gift, geen glorie

Die dyspierbesering wat veroorsaak het dat Gift Leotlela hom Sondag ná sy 100 m-halfeindronde aan die Spele moes onttrek, was nie net ’n doodskoot vir sy drome nie.

Leotlela se afwesigheid in Suid-Afrika se 4x100 m-aflosspan sou ook ’n enorme rol in die uitkoms daarvan speel.

Die SA viertal van Clarence Munyai, Shaun Maswanganyi, Chederick van Wyk en Akani Simbine kon nie Donderdag vir die eindronde van die 4x100 m-aflos kwalifiseer nie, nadat die stokkie nie eens by Van Wyk en Simbine uitgekom het nie.

’n Deurmekaarspul met die oorgee tussen Munyai en Maswanganyi (20), toe eersgenoemde teen die jongeling vasgehardloop het, het ’n einde aan hul (heeltemal geregverdigde) groot drome gebring.

’n Teleurgestelde Shaun Maswanganyi. Foto: Getty Images

Munyai, Leotlela, Simbine en Thando Dlodlo het vroeër vanjaar goud in dié item in die Wêreld-aflosbyeenkoms gewen, met Leotlela wat toe die tweede en Munyai die derde been gehardloop het.

Die plan was dié keer om Leotlela te laat wegspring, maar ná sy besering is Munyai vorentoe geskuif. Die span het ná daardie besluit net een oefensessie gehad, en kon nie daarmee verhoed dat klein jakkalsies in die wingerd insluip nie.

“Voor die kompetisie het ek saam met Gift geoefen, en ek hou nie daarvan om verskonings te maak nie, maar ek en Clarence het eers (Woensdag) begin saam oefen en ek was nog nie gewoond aan hom nie,” het Maswanganyi verduidelik.

“Ek is nie iemand wat verskonings maak nie, ek moes beter gewees het en ek moet verantwoordelikheid neem vir my fout. Ek het nie dieselfde uitgekom (uit die oorgeesone) soos saam met Gift nie, en toe dit tyd raak vir my om my hand uit te steek, was Clarence reeds op my.

“Dit was seker maar net nie bedoel om ons dag te wees nie,” sê hy.

Van Wyk, vir wie dit sy enigste wedloop in die Spele sou wees, het gesukkel om woorde vir sy teleurstelling te vind.

“Ek kon nie mooi sien wat gebeur het nie, ek het eers besef daar’s fout toe ek sien (Maswanganyi) het nie die stokkie nie,” sê hy.

“Ek het net na Akani gekyk en, ja . . . ek was reg hiervoor, maar dinge het nie vir ons uitgewerk nie.

“Ons was goed voorbereid, maar toe kry Gift seer en het ons net een oefensessie (sonder hom) gehad. Die skop was nie daar nie.

“Dis verpletterend, ek het nie woorde nie. Maar ons moet ons kop hoog hou en vorentoe kyk. Sonder twyfel sou ons deurgedring het as ons die stokkie gehad het, gemeet aan die tye wat die res opgestel het. Maar jy moet die stokkie hê daarvoor.”

Daar was groot optimisme oor die SA aflosspan se kans op ’n medalje, spesifiek omdat Simbine vierde in die 100 m-eindronde geëindig het en die jeugdige Maswanganyi in sy heel eerste Olimpiese Spele tot die halfeindronde van die 100 én 200 deurgedring het.

Boonop is die 400 m-wêreldrekordhouer Wayde van Niekerk (wat ook al onder 10 sekondes in die 100 gehardloop het) by die span betrek. Daar is besluit om hom eers in die eindronde te laat hardloop, en Van Wyk die derde been van die uitdun te laat doen. Maar uiteindelik het wie daardie deel behartig het in elk geval geen verskil gemaak nie.

Simbine en Van Niekerk het natuurlik albei vroeër vandeesweek groot teleurstellings gehad (Simbine ná sy vierde plek en Van Niekerk omdat hy nie die eindronde van die 400 kon haal nie). Maar die aflos het die duo ’n kans gebied om steeds die podium te betree – ’n kans wat verydel is sonder dat dit hul skuld was.

Die onvermoë van die aflosspan om verby die uitdun te vorder, beteken dat nog ’n item waarin daar optimisme vir ’n SA medalje was, gekom en gegaan het.

Die items wat moontlik nog ’n laaste hoera kan oplewer, is ook nou weinig. Net die land se stappers, marathon-atlete, baanfietsryers moet nog meeding, en dis op papier eintlik net in die marathon waar daar Suid-Afrikaners met ’n medaljekans is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.