Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA bielie glo hy kan nou eindronde haal

Die gewigstoter en o.20-wêreldkampioen Kyle Blignaut glo die uitstel van die Olimpiese Spele sal sy kanse verbeter om op volgende jaar se skouspel uit te blink.

Kyle Blignaut in 2018 op die o.20-Wêreldkampioenskapsbyeenkoms waar hy goud gewen het. Foto: Getty Images

Die 20-jarige bielie en oudleerling van die Hoërskool Monument in Krugersdorp reken daar is nou geen verskoning waarom hy nie twee van sy droomdoelwitte – om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer en die eindronde te haal – kan bereik nie.

“Persoonlik glo ek dit (die uitstel van die Spele) help my baie,” het Blignaut Donderdag in ’n verklaring gesê.

“As ’n jong atleet is dit moeilik om vir die eerste keer ’n senior te wees en vir die beste te hoop. Nou kan ek egter daardie ekstra bietjie ouderdom bykry wat in my guns sal tel. Ek sal 21 wees (wanneer hy die Spele probeer haal).”

Blignaut is nie iemand wat sommer terugstaan wanneer die groot byeenkomste aanbreek nie.

Hy is in 2018 in Finland op dramatiese wyse as die o.20-wêreldkampioen in sy voorkeurnommer bekroon.

Sy wenpoging van 22,07 m in die vyfde ronde het die drome van die Amerikaner Adrian Piperi verbrysel.

Piperi het die voortou in dieselfde ronde geneem met ’n gooi van 22,06 m, net om kort daarna toe te kyk hoe Blignaut hom naelskraap om die goue medalje klop.

Dít was net ’n jaar nadat die Suid-Afrikaner as die o.20-kampioen op Afrika se junior kampioenskapsbyeenkoms bekroon is.

Hy het boonop verlede jaar as 19-jarige ’n sewende plek onder die seniors op die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms behaal.

“Ek kan definitief kwalifiseer en definitief die eindronde haal. Hopelik kan ek selfs vir ’n plek onder die voorste vyf mik of ’n medalje verower,” sê Blignaut.

Hy moet ’n afstand van 21,10 m verbysteek indien hy op die vlug na Tokio wil klim. Hy het tans reeds ’n afstand van 20,03 in die senior afdeling agter sy naam. Hy het dit verlede jaar vermag.

“Ek dink ek was reeds reg om te kwalifiseer. Die voorbereiding het goed verloop en ek was 100% gereed. Ek dink die ekstra jaar, veral vir die jonger atlete, sal baie help.”

Blignaut hou homself tans in die huis besig deur gewigte op te tel, maar sê dit is frustrerend aangesien hy geen gooie kan oefen nie.

“So basies vat ek twee weke af van gooi. Ek voel ek het nou meer tyd om voor te berei en is opgewonde daaroor. Ek is glad nie kwaad (oor die inperking) nie, want ek voel dat ek volgende jaar kan terugkom en regtig meeding.”

Anders as Blignaut, wat nog redelik onervare op die senior verhoog is, gebruik die naelloper Henricho Bruintjies die inperking om af te skakel.

Henricho Bruintjies in 2018 op die Statebondspele in Australië. Foto: Getty Images

Bruintjies, wat in 2018 silwer in die 100 m op die Statebondspele in Australië verower het en ook ’n tweede plek op die podium saam met die 4x100 m-aflosspan behaal het, sê die uitstel van die Spele het sy prioriteite heeltemal verander.

“Ek gebruik die tyd nou om te ontspan, want ek oefen al sedert verlede jaar hard aangesien ek vir die Olimpiese Spele voorberei het.

“Noudat dit uitgestel is en ons in ’n staat van inperking is, sal ek die tyd gebruik om te herstel. Ná afloop van die inperking sal ek en my afrigter weer gesels oor die pad vorentoe.”

Hy sê dat hy nie oor die geriewe beskik by die huis om aan sy naellope te skaaf nie en dat dit uitdagend is.

“Daar is geen manier waarop iemand (naellope) kan oefen tydens die inperking nie, tensy hulle ’n plaas het.”

Bruintjies het verlede maand op die Gauteng-Noord-byeenkoms by die Universiteit van Pretoria (Tuks) ’n tyd van 10.08 sekondes agter sy naam geskryf, wat net-net onder die Olimpiese Spele se kwalifiserende standaard van 10.05 is.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.