Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Op pad Tokio toe – ondanks visum-krisis

Die oopwater-swemmers Michelle Weber en Michael McGlynn het hulle aangesluit by die blinkoog-atlete wat aanstaande maand na Tokio sal reis, nadat hulle die afgelope naweek in Portugal gekwalifiseer het vir die Olimpiese Spele.

Weber en McGlynn, die heersende Midmar- en Suid-Afrikaanse kampioene, sal albei vir die 10 km-item aantree nadat hulle onder die 30 swemmers getel het wat die jawoord in Setubal, Portugal, gekry het.

Die oopwater-swemmer Michelle Weber kan begin voorberei om aanstaande maand na haar tweede Olimpiese Spele te reis, nadat sy Saterdag vir vanjaar se Tokio-skouspel gekwalifiseer het.

Weber (24) het Saterdag 15de geëindig in die vroueresies om te verseker dat sy haar tweede Spele meemaak. Sy het die 10 kilometer afgelê in ’n tyd van 2 uur, 3 minute en 12.10 sekondes om net meer as ’n minuut ná die wenner, Hongarye se Anna Olasz, klaar te maak. Dit was goed genoeg om haar een van die outomatiese kwalifiseerders vir Tokio te maak.

Die 18-jarige Stephanie Houtman, Suid-Afrika se ander verteenwoordiger in die vrouekompetisie, was 33ste in 2:16:32:60.

’n Olimpiese buiging wink vir die 21-jarige McGlynn nadat hy Sondag 11de in die mansafdeling geëindig het. Sy tyd van 2:02:56:70 was 49 sekondes stadiger as die wentyd van die Brit Hector Pardoe.

Vir Michael McGlynn wink ’n Olimpiese buiging, ná sy kwalifikasie Sondag in Portugal.

Die oud-Affie Henré Louw (19) was 35ste, in 2:05:28:40.

Die feit dat twee van die vier Suid-Afrikaners in Setubal kon kwalifiseer, is veral prysenswaardig as in ag geneem word dat hulle ’n week gelede nie seker was of hulle daarheen sou kon reis nie.

Die viertal moes reeds verlede Maandag vlieg, maar kon nie omdat hulle nog nie visums gehad het nie.

Die Portugese konsulaat in Johannesburg is weens Covid-19-gevalle gesluit en hulle kon dus nie daar gehelp word nie. Swem Suid-Afrika (SSA) het die vier swemmers Dinsdagaand inderhaas Kaapstad toe laat vlieg om hul paspoorte by die konsulaat daar te gaan wys.

Uiteindelik het Weber Woensdag haar visum gekry en daardie selfde aand gevlieg. Die ander drie se visumkrisis is Donderdag eers opgelos en hulle kon kort ná 23:00 daardie nag op die vliegtuig klim.

“Dit was ’n senutergende affêre, so ons is baie bly dat Michelle en Michael nog steeds kon kwalifiseer,” het Shaun Adriaanse, die uitvoerende hoof van SSA, Maandag gesê.

“Ons is baie dankbaar vir die departement van sport wat ingegryp het om die visums vir ons swemmers te verseker, want anders sou dinge anders verloop het.”

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Michael Mcglynn  |  Michelle Weber  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.