Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA hokkie-spanne reik na sterre by Spele

Nie een van Suid-Afrika se hokkiespanne kon al ooit beter as negende in ’n Olimpiese Spele eindig nie. Maar basta met die geskiedenis, sê hulle – vanjaar wil hulle hoog vlieg.

Erin Hunter, die kaptein van Suid-Afrika se vrouehokkiespan. Foto: Getty Images

Nadat sowel die mans- as vrouespanne vyf jaar gelede by die huis gelos is vir die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro (omdat hulle “maar net as Afrika-kampioene gekwalifiseer het”) is dit vanjaar voorwaarts, mars na Tokio vir albei groepe. Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Donderdag die name van 16 mans- en 16 vroue-hokkiespelers wat deel van Span Suid-Afrika sal vorm, aangekondig – tot groot vreugde van die hele hokkiegemeenskap.

“Dit was ’n lang pad vir ons by SA Hokkie. Hierdie aankondiging is betekenisvol vir elke atleet in ons hokkiespanne – dis die sameloop van jare se voorbereiding en toewyding, tussendeur groot uitdagings wat in ons rigting gegooi is,” sê Marissa Langeni, die uitvoerende hoof van die SA Hokkievereniging (SAHV).

“Daar was soveel angs en onsekerheid oor die Spele, oor hoe dit sou lyk, hoe ons sal reis en vele meer. Maar ons het tot op hierdie punt gekom, en nou is ons so te sê op pad.”

Die nasionale vroue se beste uitslag in ’n Spele is ’n negende plek in 2012 in Londen en dit gaan bloedsweet kos om vanjaar daarop te verbeter. Hulle is immers in ’n groep gedeel saam met sterk spanne soos Brittanje (die heersende Olimpiese kampioen), Nederland (2008 en 2012 se kampioenspan) en Duitsland (die brons-wenner in Rio). Indië en die Olimpiese groentjie Ierland is dus die spanne wat die SA vroue sal teiken vir oorwinnings.

“Sowel die mans- as die vrouespanne verstaan die verantwoordelikheid daarvan om Suid-Afrika op die grootste internasionale verhoog te gaan verteenwoordig,” sê Erin Hunter, die vroue se kaptein.

“Ons gaan alles gee wat ons het en in die dae wat oor is voor ons gaan net daarop fokus om in Tokio te gaan wys ons kan met die beste ter wêreld meeding.”

Robin van Ginkel, die vroue se hoofafrigter, is ook optimisties oor die Spele.

“Die bykomende jaar wat ons gehad het nadat die Spele verlede jaar uitgestel is, was ’n groot positief vir ons groei,” sê hy in ’n verklaring.

“Ons het nuwe energie en ek glo vas ons is in ’n beter plek as wat ons ’n jaar terug sou gewees het.”

Hunter se spanmaat Phumelela Mbande sê die vroue het hul visier op die kwarteindronde, wat beteken hulle moet in die top-4 in hul groep eindig. Dit sal outomaties hul beste vertoning ooit in ’n Spele meebring.

“Mense sal weet ons kon nie na die vorige Spele gaan nie, so ons verstaan dat hierdie een nie net belangrik is vir ons nie, maar vir toekomstige generasies. Wat ons in vanjaar se Olimpiese Spele doen, sal die standaard vorentoe stel vir Suid-Afrikaanse hokkie,” sê Mbande.

Die vroue het net een bestaande Olimpiër, Lisa-Marie Deetlefs, in hul geledere. Sy sal haar derde Spele bywoon. Al die ander vroue in die groep sal die skouspel vir die eerste keer ervaar.

Keenan Horne, die SA mans se onderkaptein, sê hulle sal hul buiteperd-etiket by die Olimpiese Spele omarm. Foto: Getty Images

Vir die mans is die prentjie heelwat anders. Vyf van hulle was by die Londen-Spele in 2012, terwyl Austin Smith boonop, soos Deetlefs, ook die 2008-Spele op sy kerfstok het.

Hoewel daar jongelinge soos Mustapha Cassiem (18) en Sam Mvimbi (21) in die groep is, het die span vir die Spele 1 179 internasionale toetse gespeel, wat neerkom op ’n gemiddeld van 74 per speler.

Keenan Horne, die mans se onderkaptein, sê hulle besef baie goed hulle gaan as buiteperde na Tokio. Die Proteas (14de op die wêreldranglys) is in ’n groep saam met die wêreldkampioen België, Brittanje, Duitsland, Nederland en Kanada. Die Belge was vyf jaar gelede tweede in Rio, die Duitsers derde en Nederland vierde.

Die SA mans weet hulle gaan moet hard werk by die Spele, maar is ook geen vreemdelinge vir grondpad loop nie. Hulle is juis nou besig om geld te probeer insamel deur die skarefinansieringswebblad Matchkit.co, om elke speler voor en tydens die Spele finansieel by te staan.

“Vir ons gaan dit nie daaroor om net die getalle vol te maak by die Spele nie – ons wil meeding,” sê Horne. “Ja, ons het teenspoed gehad, maar ons wil Suid-Afrika steeds gaan trots maak. Ons gedy met die buiteperd-etiket.”

Garreth Ewing, die mans se afrigter, sê sy span het die afgelope 12 maande meer volwasse geword en ’n sterker kultuur gevestig.

“Ons het ’n wonderlike geleentheid om op die wêreldranglys te verbeter, maar dis ook iets wat ons oor ’n langdurige tydperk moet doen,” sê hy.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Hokkie  |  Erin Hunter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.