Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA probleme spoor Wayde in Tokio aan

Baie min mense sal onthou dat die Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk vyf jaar gelede in Rio de Janeiro so te sê geen vuurwerk in die Olimpiese uitdunne en halfeindronde van die 400 m gelewer het nie.

Wayde van Niekerk Sondag in aksie in die Olimpiese uitdunne van die 400 m. Die Suid-Afrikaner het net genoeg gedoen om sy plek in die halfeindronde te bespreek. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Dit was eers in die eindronde dat hy ontplof het met een van die onvergeetlikste vertonings van daardie Spele en ’n wêreldrekord van 43.03 sekondes.

Daarom dat daar geen rede vir kommer is ná sy vertoning in Sondagoggend se uitdun in Tokio nie. Ja, hy was net derde in sy wedloop, en ja, dit het in die pylvak gelyk asof hy deur sy ratte moes woerts om by te hou toe twee van sy teenstanders voet in die hoek sit.

Maar die tyd van 45.25 sekondes waarmee die 29-jarige derde in sy wedloop was, is net ’n 100ste van ’n sekonde vinniger as sy uitduntyd in die Rio-Spele. En dié keer het die oud-Bloemfonteiner die verskoning dat hy nog ’n bietjie ‘wedloopfiksheid’ skort.

“Ek het heelwat senuwees gehad om vandag uit te skud. Na ’n goeie eerste 200 m het ek te vinnig begin afskakel, maar ek is seker hoe meer ek dit doen, hoe meer beheer sal ek begin kry,” het Van Niekerk ná sy uitdun gesê. “Ek is in die halfeindronde, so ek moet seker maak ek vergoed vir verlore tyd. Maar ek voel positief.”

Van Niekerk, wat in baan sewe gehardloop het, sê sy fokus was op Botswana se Leungo Scotch, wat twee bane binne syne was en ’n goeie tempo gehandhaaf het.

“Ek het gedink as hy sy spoed behou, kon ek dit tot my voordeel gebruik en net byhou by hom. Maar toe sien ek twee ander ouens aan ons binnekant (die Aussie Steven Solomon en Anthony Zambrano van Colombia) tel spoed op. Dit het my verras,” sê hy.

“Minstens kon ek ’n topdrieplek kry en dis wat nou belangrik is.”

Ek het heelwat senuwees gehad om vandag uit te skud.
Wayde van Niekerk

Die topdrie in elke uitdun het outomaties tot Maandagmiddag se halfeindronde deurgedring, saam met die vinnigste ses van die res.

Van Niekerk het eindelik net sewe 100stes van ’n sekonde voor Scotch oor die eindstreep gehardloop vir die derde plek. Zambrano het in 44.87 gewen en Solomon was tweede in 44.94.

Die heel vinnigste tyd is in die derde uitdun deur die Amerikaner Michael Cherry (44.82) gelewer. Die Statebond-kampioen, Isaac Makwala van Botswana, was die tweede vinnigste met ’n 44.86 in die eerste uitdun.

Soos vyf jaar gelede word Van Niekerk vanselfsprekend vanjaar aangevuur deur sy eie ambisies van Olimpiese goud (en, het hy verlede week gesê, watter soort erfenis hy vir sy ongebore seun sal laat), maar soos vir vele van sy Olimpiese spanmaats is die probleme in Suid-Afrika ook ’n motivering.

“My land gaan op die oomblik deur so baie – daar is soveel stres, teleurstelling en pyn,” het hy aan die media gesê. “Ek probeer ’n helder lig (vir Suid-Afrika) wees, deur te veg om my eie terugslae en beserings te oorkom en iets positief vir my land te lewer.”

• Van Niekerk was die enigste van Suid-Afrika se drie 400 m-atlete wat die uitdunne kon oorleef.

Zakithi Nene en Thapelo Phora was albei vyfde in hul onderskeie uitdunne, in onderskeidelik 45.74 en 45.83 sekondes. Dit was nie vinnig genoeg om die top-16 te haal nie.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Tokio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.