Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA roeiers ‘verpletter’ ná droom sterf

Teen die grond.

So het Roger Barrow, die nasionale roei-afrigter, die emosies beskryf van die vier roeiers wie se Olimpiese medalje-drome Sondag finaal verydel is, toe hulle laaste in die repechage van die mans-viertal geëindig het.

Luc Daffarn en Jake Green sukkel om die werklikheid te aanvaar nadat hulle Sondagoggend uit die Olimpiese Spele geskakel is. Foto: Reuters

Suid-Afrika sal vir die eerste keer sedert 2008 (en net die tweede keer in 17 jaar) nie ’n roei-medalje by ’n Spele verower nie, nadat sowel die duo in die mans-parekompetisie as die groep in die mans-viertalstryd Sondag in hul onderskeie repechages die agteros was.

Jake Green en Luc Daffarn het gehoop om by die agterdeur in te glip na die halfeindronde van die pare-kompetisie, terwyl Lawrence Brittain, John Smith, Sandro Torrente en Kyle Schoonbee in die top-2 van hul repechage moes eindig om vir die A-eindronde van die viertal-stryd te kwalifiseer.

In albei gevalle was die Suid-Afrikaanse roeiers futloos en sonder ritme, en in geen stadium ’n faktor in hul wedrenne nie. Albei groepe was Saterdag laaste in hul uitdunne, en het dus nie voor ’n enkele ander span in vanjaar se Spele geëindig nie.

“Hulle is verpletter,” het Barrow volgens Supersport gesê van die viertal, wat in Mei silwer in ’n Wêreldbeker-byeenkoms gewen het en die Spele binnegegaan het as medalje-aanspraakmakers.

“Die vier is baie na aan mekaar en het vanjaar deur baie gegaan. Hulle was wêreldklas, so vir dinge om so te eindig . . . Hulle was nêrens.

“Om daar heel agter te roei is nie wie ons is nie. Dis teleurstellend, want ons het hierheen gekom om goed te vaar en nie daardie uitslag gekry nie.”

Oor en verby! ’n Bitter teleurgestelde SA viertal, ná hul droom van ’n Olimpiese medalje Sondag finaal verydel is. Foto: Reuters

Die viertal sal nou in die B-eindronde deelneem, waar niks op die spel is nie.

Die duo in die pare-kompetisie is heeltemal uitgeskakel. Daar was nie sulke hoë verwagtinge van hulle soos van die viertal nie, maar hulle was nietemin ook baie teleurgesteld.

Green, wat in sy tweede Spele in aksie was, het aan Sport24 gesê sy en Daffarn se vertoning was “nie ’n weerspieëling van wie ons is nie”.

“Ons het so uitgeput gevoel, en fisiek niks gehad nie,” sê hy. “Ek dink wel nie dis te wyte aan die hitte nie, want dit kan selfs warmer hier raak.”

Daffarn sê hy en sy spanmaats is al vir vier weke in Japan en het dus geakklimatiseer.

“Maar hierdie hitte het ’n massiewe effek op jou liggaam,” sê hy.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.