Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA roeipaar blinkoog oor uitdaging
Jake Green en Luc Daffarn Woensdag in die Sea Forest-waterweg, waar hulle Saterdag hul Olimpiese veldtog sal afskop. Foto: Reuters

Op Luc Daffarn se profiel op die amptelike Olimpiese webblad beskryf hy sy lewensfilosofie met ’n aanhaling van die voormalige renjaer Mario Andretti.

“As jy voel jy is in beheer, beweeg jy nie vinnig genoeg nie,” lui dié aanhaling.

Dis ’n sin wat Daffarn se ambisies in sy eerste Olimpiese Spele deeglik opsom. Van Saterdag af sal die 23-jarige Pretorianer en sy roeimaat, Jake Green, kyk of hulle ’n bydrae kan maak tot Suid-Afrika se groeiende getal Olimpiese roeimedaljes – en draal op die waters van Tokio se Sea Forest-waterweg sal hulle beslis nie daarmee help nie.

“Ons mikpunt is die A-eindronde van die Olimpiese Spele,” het Daffarn Woensdag luidens ’n Tuks-verklaring gesê. “Ons het beslis die spoed om dit te laat gebeur – nou moet ons net na ons beste vermoë roei.

Ek het dit nog maar net ’n handjievol kere beleef, maar dis iets wat jou vir altyd bybly. Hopelik gebeur dit ook in Tokio vir ons.
Luc Daffarn

“Daar word gesê dat ’n goeie span homself en sy boot oor die water laat ‘dans’, en wanneer dit gebeur, is dit wonderlik. Ek het dit nog maar net ’n handjievol kere beleef, maar dis iets wat jou vir altyd bybly. Hopelik gebeur dit ook in Tokio vir ons.”

Waar Daffarn vir die eerste keer ’n Olimpiese Spele beleef, is die 27-jarige Green vir die tweede keer op dié verhoog. Hy was in 2016 lid van ’n jong viertal, wat vriend en vyand met ’n vierde plek in Rio de Janeiro verras het.

In die vyf jaar sedertdien het hy nie net van boot verander nie, maar ook ’n ernstige kwaal te bowe gekom.

Lawrence Brittain

In Oktober 2017, terwyl hy voorberei het om by daardie jaar se Wêreldkampioenskap saam met Lawrence Brittain in die pare-kompetisie te roei, is kompartement-sindroom in Green se regterarm gediagnoseer.

Dit het meegebring dat die bloed wat in sy spiere ingepomp is tydens oefening, nie weer uitgeloop het nie en die spier laat opswel het. Dit het so pynlik geraak dat hy ’n operasie moes ondergaan en ses maande buite aksie was.

Ná sy herstel het hy terug in die boot geklim en die harde werk gedoen wat die Olimpiese droom vereis.

Daffarn en Green het nog nie veel saam deelgeneem nie, en moes in Mei by die Wêreldkampioenskap in Luzern tevrede wees met ’n tweede plek in die B-eindronde. Maar Daffarn sê hulle het ’n “goed berekende” renplan, waarin elkeen se rol goed uitgelê is.

“Ek is die kommunikeerder en strateeg, wat moet seker maak ons hou by die plan. En ek moet bybly by Jake se haal-ritme,” sê Daffarn. “Uit ’n ‘enjinkamer-perspektief’ moet ons krag en uitvoering perfek gesinchroniseer wees.”

Uit ’n ‘enjinkamer-perspektief’ moet ons krag en uitvoering perfek gesinchroniseer wees.
Luc Daffarn

Met die Olimpiese pare-ren oor 2 000 meter is dit net vir diegene wat bereid is om deur die pyngrens te roei. Die Tukkie beskryf dit as “waarskynlik die uitdagendste ding wat jy in die sportwêreld kan doen, in ag genome die tydsduur daarvan (gemiddeld rondom sewe minute)”.

“Die pyn word so erg dat jou lyf begin skree en alles seer is. Maar net een ding maak saak: jou tegniek en die perfekte uitvoering daarvan. Dis hoekom ons vir ure aaneen oefen.”

Meer oor:  Luc Daffarn  |  Japan  |  Tokio  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.