Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
SA se 100 m-trio maak geskiedenis
Gift Leotlela lyk baie in sy noppies nadat hy Saterdag sy uitdun in die Olimpiese 100 m gewen het. Foto: Gallo Images

Die Pretoria-blits Gift Leotlela het glad nie die afgelope week geoefen nie, met ’n paar skete wat hom van sy voete af gehou het.

Maar dit het hom geen duit geskeel toe hy Saterdagmiddag moes aantree om sy plek in die halfeindronde van die Olimpiese 100 m te probeer bespreek nie. Inteendeel het die 23-jarige só goed gehardloop dat hy sy voet teen die einde van die petrolpedaal kon haal en steeds sy neus voor die res gehou het.

Hy was met ’n tyd van 10.04 sekondes baas in die vierde van sewe uitdunne.

Akani Simbine nadat hy koning gekraai het in sy 100 m-uitdun in Tokio. Foto: Gallo Images

Leotlela het saam met die medalje-gunsteling Akani Simbine en die 20-jarige Shaun Maswanganyi seker gemaak dat Suid-Afrika vir die eerste keer in die 125 jaar van die moderne Olimpiese Spele drie atlete in die halfeindronde van die 100 m sal hê. Soos Leotlela het Simbine (10.08) sy uitdun gewen, terwyl Maswanganyi (10.12) ná ’n haastige begin sy momentum verloor het en derde in sy uitdun was.

Hulle het almal outomaties deurgedring omdat hulle in die topdrie in hul uitdunne was.

Simbine is die Suid-Afrikaner op wie alle oë is – veral ná hy vroeg verlede maand ’n nuwe Afrika-rekord van 9.84 opgestel het – maar Leotlela het sy kalklig gesteel.

Die vlugvoetige Tukkie was tot voor Simbine se rekordvertoning die land se vinnigste naelloper van 2021, danksy ’n 9.94 by die Suid-Afrikaanse kampioenskap.

“Ek het regtig die wedloop geniet,” het hy ná Saterdag se uitdunne gesê. “Ek het geweet die spoed was daar en dat ek net moes sorg dat my uitvoering goed is. Ek het gedoen wat ek moes doen.

“Ek gaan dit ronde vir ronde vat. Ek het die afgelope week ’n klompie skete gehad en moes myself oppas, so ek het nie eens een oefensessie gehad nie. Die feit dat ek dus hierdie vertoning kon lewer, maak my baie gelukkig. En nou weet ek ek is fisiek en geestelik reg vir die volgende een.”

Die feit dat ek dus hierdie vertoning kon lewer, maak my baie gelukkig. En nou weet ek ek is fisiek en geestelik reg vir die volgende een.
Akani Simbine

Simbine was in aksie in die sesde uitdun – die tweede agtereenvolgende een waarin die atleet in baan 2 vir ’n oorhaastige wegspring gediskwalifiseer is.

In die vyfde uitdun is die rooi vlag gewys vir die Nigeriër Divine Oduduru, wie se reaksietyd twee keer die beamptes laat skarrel het. Hy was woedend.

’n Paar minute later het Togo se Fabrice Dabla in dieselfde baan gaan sak, maar in sy geval kon hy nie teenstribbel nie. Dit was glashelder dat hy homself te vroeg begin lig het.

Ná daardie onderbreking het Simbine ’n swak wegspring gehad en moes hy hard werk om eerste oor die lyn te hardloop. Maar, het hy agterna gesê, hy het geen rede tot kommer nie.

Ek wou nie vandag te veel energie gebruik nie, want ek moet dit hou vir môre (Sondag, wanneer sowel die halfeind- as eindrondes plaasvind).
Fabrice Dabla

“Ek wou nie vandag te veel energie gebruik nie, want ek moet dit hou vir môre (Sondag, wanneer sowel die halfeind- as eindrondes plaasvind). Dis ons belangrikste dag, en ek is baie opgewonde daaroor om dan weer te hardloop.”

Leotlela sal Sondag (om 12:15 SA tyd) in die eerste halfeindronde teen onder andere Yohan Blake (10.06) en die Kanadees Andre De Grasse (die uitdunne se vinnigste man, met ’n 9.91) hardloop.

Maswanganyi sal aantree vir die tweede halfeind, waar hy met atlete soos Trayvon Bromell (10.05) en die Nigeriër Enoch Adegoke (9.98) moet meeding.

Bromell, wat vroeër vanjaar die wêreld se vinnigste tyd (9.77) opgestel het, kon gister net vierde in sy uitdun eindig, maar was steeds vinnig genoeg om tot die halfeind deur te dring.

Wenda Nel Saterdag in die Olimpiese stadion. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

In die derde halfeind sal Simbine langs die Amerikaner Ronnie Baker (10.03) sak, met die Italianer Lamont Jacobs (9.94) as een van die ander gevaarmanne.

• Die hekkiesloper Wenda Nel het vroeër Saterdag deurgedring tot die halfeindronde van die 400-hekkies, nadat sy met ’n tyd van 56.06 derde in haar uitdun was.

“Ek het beslis meer om te wys en om te gee,” het sy gesê. “My pad na die Spele was nie baie glad nie, so ek is net dankbaar dat ek gesond is en hier kan meeding. Ek sien uit na die halfeindronde en sal hopelik daarin onder 56 sekondes gaan – dalk selfs onder 55.”

Nel se halfeind wag Maandag.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Akani Simbine  |  Wenda Nel  |  Gift Leotlela  |  Tokio  |  Japan  |  Suid-Afrika  |  Geskiedenis  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Halfeind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.