Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Sauna in tent, stomende bad help Henri slyp
Henri Schoeman hardloop in Mei 2019 voor in ’n byeenkoms in Jokohama. Foto: Getty Images

Henri Schoeman se visier is op die goue medalje in die driekampkompetisie in die Olimpiese Spele.

Ná ’n bronsmedalje in die 2016 Spele in Rio de Janeiro, wil dié Durbaniet nou op ’n hoër trappie van die podium staan.

Die mans se driekampbyeenkoms begin Sondag om 23:30 (SA tyd).

Maar hoe berei jy in die Suid-Afrikaanse winter voor vir Tokio se erge hitte en bedompigheid?

Schoeman het sy harde oefensessies op die warmste tyd van die dag in Durban gehad.

“Ons het hom aan uiterste toestande blootgestel,” sê sy afrigter en pa, Joe, in ’n verklaring.

“Ander dae wanneer Henri nie hard geoefen het nie, het ons hom in ’n verhitte tent laat fietsry of draf. Hy het dan onmiddellik daarna vir ’n halfuur in ’n warm bad van 40ºC gaan lê.

“Sy liggaamstemperatuur moes styg. Ons het ’n toestel gehad wat dit altyd meet as hy oefen, sodat ons weet wat sy kerntemperatuur is.

Ons het ook ’n sauna in ’n tent ingerig. Die temperatuur daarvan kon tot 70ºC styg. Hy het ná ’n hardloopsessie vir ’n halfuur daarin gaan sit. As jy wil sweet, moet jy behoorlik sweet!
Joe Schoeman

“Ons het ook ’n sauna in ’n tent ingerig. Die temperatuur daarvan kon tot 70ºC styg. Hy het ná ’n hardloopsessie vir ’n halfuur daarin gaan sit. As jy wil sweet, moet jy behoorlik sweet!” sê Joe.

Soos talle sportlui die laaste jaar, is Schoeman (29) se voorbereiding en deelname aan byeenkomste ook in die wiele gery deur Covid-19-reisbeperkings.

Hy put wel baie vertroue uit sy vyfde plek in Mei in die eerste Wêreldbeker-byeenkoms in Jokohama, Japan, waar hy teen medalje-aanspraakmakers te staan gekom het.

Kristian Blummenfelt

Die Noorweër Kristian Blummenfelt was die wenner in 1:42:55 en die Suid-Afrikaner se tyd was 1:43:26.

“Ek kon daar op die podium geëindig het, maar wou nie daar al wen nie.

“As jy wen, vergroot die druk en is daar ’n teiken op jou rug,” sê Schoeman.

“Ek weet waar my peil nou is en is vol vertroue.”

Schoeman is 13de op die wêreldranglys.

Hy wou ná Jokohama na Spanje vlieg en daarvandaan na Lissabon, Portugal, vir ’n kwalifiseringsbyeenkoms vir die gemengde aflos, maar beamptes in Japan het geglo hy het nie die nodige dokumente om soontoe te vlieg nie. Hy moes toe na Durban terugkeer.

Dit het sy planne in die wiele gery om in Junie aan die tweede Wêreldbeker-byeenkoms in Leeds deel te neem.

Reisbeperkings bepaal dat hy tien dae in ’n land op Brittanje se “groen lys” moes deurbring om kwarantyn te vermy.

Schoeman kon wel in Junie na Egipte reis waar die Afrika-byeenkoms in ’n warm Sharm el Sheikh plaasgevind het. Hy het daar sy vyfde Afrikatitel gewen.

Schoeman kon wel in Junie na Egipte reis waar die Afrika-byeenkoms in ’n warm Sharm el Sheikh plaasgevind het. Hy het daar sy vyfde Afrikatitel gewen.

Hoewel dié woestyndorp se hitte ’n droë een is, het dit Schoeman wel gehelp in sy Tokio-voorbereiding.

Die byeenkoms het om 05:30 begin en teen 08:00 het die kwik reeds op 31ºC gestaan, sê hy.

“Die vroeë begintyd was goed, want jy moes jou liggaam leer om vroeg aan die gang te kom.”

Die Suid-Afrikaner ken die Olimpiese driekamproete, want hy het in Augustus 2019 by die Odaiba Marine Park aan ’n toetsbyeenkoms deelgeneem en negende geëindig.

Die kennis sal beslis tot sy voordeel strek wanneer hy Maandagoggend (Japanse tyd) aantree op soek na Olimpiese glorie.

• Driekamp se Olimpiese dissiplines bestaan uit 1,5 km swem, 40 km fietsry en ’n 10 km-padwedloop.

• TV: Sondag 23:30 (SS 201).

• Kyk hoe lyk ’n dag in Schoeman se lewe:


Meer oor:  Henri Schoeman  |  Tokio  |  Japan  |  Fietsry  |  Padwedloop  |  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Goue Medalje  |  Driekamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.