Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Schoeman se besering kos Murray

Die Suid-Afrikaanse driekampspan se Olimpiese Spele is verby, nadat die besluit Dinsdag geneem is om hulle aan die naweek se gemengde-aflos-kompetisie te onttrek.

Lindsey Parry, afrigter van die groep in Tokio, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê Henri Schoeman se enkelbesering het sodanig vererger dat hy nie Saterdag sal kan deelneem nie. Aangesien hy, Richard Murray, Gillian Sanders en Simone Ackermann die enigste SA driekampers by die Spele is, is daar nie ’n reserwe vir hom nie en dus ook nie ’n plan B nie.

“Ons het net ’n rukkie terug die gesprek daaroor gehad, so die emosies is vanselfsprekend nog ’n bietjie rou. Almal is baie teleurgesteld. Maar daar is meer skade aan Henri se enkel nadat hy (Maandag) aan die manskompetisie deelgeneem het en die besluit is deur Saskok en Driekamp Suid-Afrika geneem dat daar nie met hom gewaag moet word nie.”

Henri Schoeman en Richard Murray nadat hulle in 2016 onderskeidelik derde en vierde in die Olimpiese driekamp was. Dié keer sal albei met leë hande uit Tokio vertrek, nadat Schoeman se enkelbesering albei se veldtog beëindig het. Foto: Christiaan Kotze

Schoeman, die Olimpiese bronsmedalje-wenner van 2016, het die afgelope drie weke soveel las van sy regterenkel gehad dat hy nie op die pad kon hardloop nie. Hy het nietemin besluit om Maandag aan die mans se driekamp-kompetisie deel te neem en uitstekend gevaar in die swem- en fietsrybene.

Ná sowat ’n derde van die hardloopbeen het hy egter te veel pyn gehad om voort te gaan en het hy hom onttrek.

Parry sê dis sleg vir almal dat een besering nou almal se Spele kortgeknip het.

“Soos ek sê, die teleurstelling is groot, maar ons almal weet ook beserings gebeur. Dis deel van sport,” sê hy. “Die groot probleem is dat ons nie regtig die diepte het om reserwes te kon saambring nie omdat die huidige reëls bepaal dat deelnemers in die top-140 in die wêreld moet wees. Die goeie nuus is dat ons hopelik teen volgende jaar se Statebondspele in ’n posisie behoort te wees waar ons drie mans en drie vroue sal kan saamneem sodat ’n situasie soos hierdie een nie weer opduik nie.”

Een atleet vir wie die onttrekking veral ’n hou in die maag sal wees, is Richard Murray, wat besluit het om nie aan die individuele kompetisie deel te neem nie en om eerder al sy fokus op die aflos te plaas.

Murray het twee maande gelede ’n hartoperasie ondergaan en kort ná sy aankoms in Tokio besluit twee kompetisies sou te veel wees vir hom.

Nou sal hy nie aan een deelneem nie.

’n Jubelende Rachel Klamer hardloop Dinsdag oor die eindstreep van die vrouedriekamp, nadat sy ’n onverwagse vierde plek behaal het. Foto: Reuters

• Murray se vrou, die Nederlander Rachel Klamer, het Dinsdag vierde geëindig in die individuele driekamp vir vroue – nes Murray vyf jaar gelede by die Rio-Spele!

Asof dit nie reeds vreemd genoeg is nie, is hulle nie die eerste egpaar wat albei vierde plekke in die Olimpiese driekamp behaal nie.

Die Australiër Greg Bennett het in 2004 in Athene vierde in die manskompetisie geëindig, voordat sy Amerikaanse vrou, Laura, in 2008 in Beijing vierde in die vrouestryd was.

Murray was in 2016 in die wolke oor sy vierde plek, wat net enkele maande was nadat hy sy sleutelbeen gebreek het. Net so was Klamer gister verheug dat sy so ’n goeie uitslag kon behaal nadat sy die een teenstander ná die ander oor die hardloopbeen ingekatrol het.

Die 31-jarige Nederlander het haar gaar gehardloop – soveel so dat sy inmekaar gesak het nadat sy oor die eindstreep is en met ’n rolstoel weggeneem is.

Nadat sy haar kragte herwin het, het sy volgens NOS gesê sy het glad nie verwag om so goed te vaar nie.

“Verlede jaar is my ma oorlede en my man het hartprobleme gehad. Twee dae voor die kompetisie het ek maagprobleme gehad en gedink: ‘Gaan dit nooit ophou nie?’ Ek moes sielkundig sterk wees, maar ons het in moeilike omstandighede deelgeneem en ek vaar goed daarin,” sê sy.

• Simone Ackermann het die beste van die twee Suid-Afrikaners in Dinsdag se individuele driekamp vir vroue geëindig toe sy ’n 17de plek behaal het.

Gillian Sanders, wat in haar derde en laaste Spele in aksie was, het nie betyds by die oorgangspunt tussen die fietsry- en hardloopbene aangekom nie en is dus uitgeskakel.

Die goue medalje is gewen deur Bermuda se Flora Duffy, wat dié eilandgroep se eerste Olimpiese kampioen tot nog toe (en eerste medaljewenner sedert 1976) geword het. Sy het ’n wentyd van 1 uur, 55 minute en 36 sekondes opgestel.

Meer oor:  Henri Schoeman  |  Olimpiese Spele  |  Richard Murray  |  Driekamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.