Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Schurter tree aan by vierde Spele
Nino Schurter (Scott-SRam) sal Maandag uitgedaag word deur jonger teenstanders, sommige van hulle padfietsryers. Foto: Getty Images

Die bronsmedalje in 2008, silwer in 2012 en goud in 2016. Wat hou Tokio vanjaar in vir die 35-jarige Nino Schurter, een van bergfietsry se suksesvolste sportmanne?

Dié Switser sal Maandag in die Olimpiese veldwedrenne by ’n ongeëwenaarde vierde Spele aantree.

Sy seisoen was allesbehalwe perfek met jonger teenstanders soos Mathias Flückiger (32), Victor Koretzky (26), Tom Pidcock (21), Jordan Sarrou (28) Mathieu van der Poel (26) en ons eie Alan Hatherly (25) wat hom vanjaar al stof in die oë geskop het.

Maar moenie vir Schurter onderskat nie. Hy het die wedstrydtemperament, want benewens Olimpiese medaljes spog hy onder meer met agt wêreldkampioenskapstitels, waarvan hy sy eerste in 2009 gewen het.

Hy was sewe keer die algehele wenner van ’n kalenderjaar se Wêreldbeker-byeenkomste.

En hy sal dit geniet om vir eens nié as die gunsteling aan te tree nie.

Die veteraan het al alles in bergfietsry bereik, onder meer ook twee titels in die Cape Epic-skofwedren.

Schurter het onlangs aan Bikemagazine gesê sy motivering is steeds hoog.

“Die sterk mededinging by Wêreldbeker-byeenkomste motiveer my. My loopbaan is nog altyd gekenmerk deur sterk kompetisie. Teenstanders het nog altyd die beste uit my gehaal.”

Aan Reuters het hy gesê: “Ek en die Spele het ’n emosionele, mooi storie. Nou is ek hier vir die vierde keer – en ek het die visie om weer te wen.”

Schurter se tweede plek by die eerste Wêreldbeker-byeenkoms in Mei in Albstadt, Duitsland, was sy beste prestasie tot dusver vanjaar.

Daarna het hy vyfde, sewende en tiende geëindig.

Dit pla hom allermins.

“Ek het soveel ervaring dat dit min van my verg om van hier af weer die toppunt te bereik,” het hy aan Bikemagazine gesê.

“Ek gaan nie nou my voorbereiding drasties verander nie. Dit sal nie maklik wees nie,” sê hy oor sy Olimpiese aanslag.

“Ek word nie jonger nie. Ek sal weer my beste peil vind. My sukses in die verlede gee my ’n sekere graad van selfvertroue wat betref die Spele.”

Schurter is al 15 jaar ’n beroepsryer en weet watter oefeninge vir hom werk en watter nie, sê hy.

“Ek weet ook dit is die kleinste dingetjies wat eindelik die verskil beteken tussen die tiende plek en die oorwinning.

“Ek het tweede in Albstadt klaargemaak en die verskil tussen eerste en tweede was minimaal.”

Schurter sê hy het ná die Wêreldbeker-byeenkoms in Leogang, Oostenryk, vir drie weke ’n oefenkamp hoog bo seevlak bygewoon. By sy huis het hy ’n vertrek waar hy slaap wat ’n hoë vlak bo seespieël simuleer.

Hy het ná die laaste Wêreldbeker-byeenkoms in Les Gets, Frankryk, nóg ’n oefenkamp bygewoon om gewoond te raak aan hitte.

Schurter sê hy gaan nie sy planne verander net omdat hy ondergemiddelde uitslae behaal het nie.

“Jy wen nie ’n veldwedren op die afdraandes nie. Ek weet waar ek risiko’s kan neem sonder om te val. As ek vinniger ry, verhoog die risiko’s.

“In veldwedrenne is die mees volledige ryer die een wat wen. Dit is hoekom ek nie net op die afdraande konsentreer nie.”

• TV: Maandag 08:00 (SS 203).

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Bergfietsry  |  Nino Schurter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.