Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Senuwees dalk Connor se doodsteek

Dit was Sondag ’n teleurstellende dag vir Suid-Afrika op die Olimpiese Winterspele in Pjeongtsjang, Suid-Korea, maar daar is nóg ’n kans om die vlag te laat wapper.

Connor Wilson gly oor die sneeu ná sy valslag in die reuse-slalom van die Alpynse ski. Wilson is Suid-Afrika se enigste verteenwoordiger by die Olimpiese Winterspele Pjeongtsjang, Suid-Korea.Foto: Reuters

Die 21-jarige Alpynse skiër Connor Wilson het aan sy eerste item op die Spele deelgeneem, maar byna halfpad in die eerste wedloop van die reuse-slalom geval. Hy het dus nie die wedloop voltooi nie, wat beteken hy kon nie aan die tweede wedloop deelneem nie.

Wilson, van Johannesburg, kry Donderdag nog ’n kans om sy slag te wys in die slalom.

Alexander Heath, wat Suid-Afrika drie keer op ’n Winterspele verteenwoordig het, sê hy het gedink Wilson sou ’n goeie vertoning lewer, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie.

Die baan het 53 hekke gehad en deelnemers moes om 51 van dié hekke ski. Wilson het 107de van die 110 deelnemers weggespring.

“Van die paar draaie wat ons (op TV) kon sien voordat Connor geval het, het dit gelyk of hy verdedigend geski het, seker weens die senuwees,” sê Heath.

Hy sê dit is nie maklik om op die grootste verhoog deel te neem nie, en veral nie as jy ’n lid van ’n eenmanspan is nie.

Alles is egter nog nie verlore nie, sê Heath.

“Hy behoort ’n beter wegspringposisie in die slalom te hê.

“Die slalom-helling is baie steil, met harde sneeutoestande. As hy net albei wedlope kan klaarmaak, sal dit ’n groot prestasie vir hom wees,” sê Heath.

Dit het nie gelyk of die sneeutoestande te erg verweer het toe die laaste deelnemers weggespring het nie.

Wilson se posisie voor die valslag was te regop. Hy kon dus nie die draai behoorlik bemeester nie. Dit het daartoe gelei dat sy bolyf in die verkeerde posisie was. Daar was nie genoeg druk op die buitenste ski nie en dit het losgekom.

Net 75 van die 110 deelnemers kon albei wedlope voltooi.

Die Oostenryker Marcel Hirscher het die item in ’n gekombineerde tyd van 2 minute 18.04 sekondes gewen, ’n hele 1.27 sekondes voor die Noor Henrik Kristoffersen, wat tweede geëindig het in 2:19.31. Alexis Pinturault van Frankryk het die bronsmedalje gewen in ’n tyd van 2:19.35.

* Heath het in Nagano, Japan (1998), Salt Lake City (2002) en Torino, Italië (2006), deelgeneem. Hy is ook ’n voormalige afrigter.

Meer oor:  Pjeongtsjang  |  Winterspele  |  Alpynse Ski  |  Connor Wilson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.