Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Sien, ons kan, jubel SA hokkiemans

In die oomblikke nadat die eindfluitjie Donderdag in die Suid-Afrikaanse manshokkiespan se Olimpiese wedstryd teen Duitsland geblaas het, het die doelevraat Mustaphaa Cassiem (19) uit die “koelkas” langs die veld gestorm en die trane vryelik laat vloei.

Samkelo Mvimbi gil van plesier nadat Suid-Afrika se manshokkiespelers Donderdag ’n skok-oorwinning oor die meer geroemde Duitsland behaal het. Foto: Getty Images

Die telbord langs die baan het gewys dat die Suid-Afrikaners vir een van die grootste opskuddings in die geskiedenis van die sport gesorg het: Hulle het ’n Duitse span wat die afgelope 20 jaar op die Olimpiese podium boer, met 4-3 verslaan.

Die Suid-Afrikaners beïndruk reeds sedert hulle Saterdag in hul eerste wedstryd gespeel het, maar hulle kon nie in een van hul eerste drie wedstryde ’n sege behaal as beloning vir hul goeie spel nie.

Die werklikheid was dat hulle te staan gekom het teen die grootste honde in wêreldhokkie. Teen Brittanje was hul aanvallende benadering en merendeels goeie uitvoering nie genoeg om ’n nederlaag met 1-3 te vermy nie. Teen Nederland het hulle met 3-0 voorgeloop, net om vyf doele af te staan toe die Europese kampioen op sy ervaring begin staatmaak het om druk op die Proteas te plaas. En teen België het hulle vier doele aangeteken om die vertroue in hul aanvallende vermoëns te versterk – maar ook nege afgestaan.

Met daardie drie vertonings om hulle aan te vuur, het hulle geweet hulle is in staat daartoe om leeutemmers te wees, sê die middelskakel Timothy Drummond.

“Ons het hard geoefen vir oomblikke en uitslae soos hierdie en ons het geweet ons het dit in ons. Dis fantasties dat ons nou weet hoe dit voel en sal dit hopelik vorentoe kan onthou,” sê hy.

Matthew Guise-Brown, wat die Suid-Afrikaners se eerste doel aangeteken het, kon sy opgewondenheid oor die grootsheid van die uitslag skaars beteuel.

“Sjoe, dis moeilik om dit in woorde uit te druk. Dis goed, nè? Dit is een van my beter dae hierdie,” het hy blinkoog gesê.

“Ons kom na hierdie toernooie en is groot buiteperde, maar vandag het ons gewys ons kan bo ons gewig boks. Jis, dis eintlik baie emosioneel.

“Dis maklik om te praat oor hoe jy iets soos dit gaan doen. Ons sit in ons spanvergaderings en praat oor wedstryde wat kom, en ons ondersteun die stelsel en mekaar, maar soos hulle sê, the proof (of) the pudding (is in the eating). Totdat jy nie iets gedoen het nie, maak dit tog geen verskil om te sit en praat oor hoeveel jy glo jy kan dit doen nie.”

Die Protea-doelskieter Mustaphaa Cassiem is een van die Suid-Afrikaners op die Olimpiese Spele wat sy hand die hoogste opgesteek het. Foto: Getty Images

Vir Cassiem, wat Donderdag sy derde doel van die toernooi aangeteken het, was die laaste kwart ’n onwelkome mengsel van soet en suur, toe die opgewondenheid oor sy uiteindelike wendoel in die voorlaaste minuut kortstondig uitgewis is deur ’n geel kaart.

Hy was in die koelkas toe die wedstryd geëindig het.

“Ek het daar langs die kantlyn gesit, in ’n stadium dat die druk op sy kwaaiste was en jy regtig al jou ouens op die veld nodig het. Ek was regtig benoud en ek het net gehoop die Duitsers kry nie ’n doel nie. Toe hulle dit nie regkry nie, was ek só verlig,” sê hy.

Ondanks hul sege is dit waarskynlik neusie verby vir die Suid-Afrikaners se kans om die kwarteindronde te haal, met ’n top-4-posisie in Groep B wat byna onmoontlik is.

Die Proteas is vyfde, met drie ligapunte, en sal Vrydag ’n groot oorwinning moet behaal oor Kanada (die groep se melkkoei, wat nog geen punte het nie) as hulle in die kwarteind-gesprek wil kom.

Vermag hulle dit, moet hulle steeds hoop dat Duitsland ver teen Nederland verloor. Die Duitsers het ’n doeleverskil van 7, terwyl die Suid-Afrikaners s’n -8 is. Dit gaan dus ’n enorme hoeveelheid geluk vir die Proteas verg om hul veldtog lewend te hou.

Guise-Brown sê hul fokus is nou net daarop om Donderdag se uitmuntende uitslag op te volg met ’n goeie een teen Kanada.

“Hierdie oorwinning sal beslis die hokkiewêreld laat kennis neem van ons, maar dit gaan niks help as ons dit nie (Vrydag) goed kan opvolg nie. Ons sal hierdie oomblik geniet, want dis belangrik om oomblikke soos hierdie te vier. Maar dan moet ons seker maak ons is reg vir Kanada, sodat hierdie uitslag selfs waardevoller kan wees.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Hokkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.