Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Soet, toe suur, vir dapper Dlamini

Die Kapenaar Nicholas Dlamini het nou wel nie gister die Olimpiese mans-padfietsren in Tokio voltooi nie – maar daar was steeds ’n breë glimlag op sy gesig nadat hy die kans aangegryp het om sy staal te wys.

Nic Dlamini
Suid-Afrika se Nic Dlamini (in die middel op die agtergrond) het gister vir 180 km die pas help aangee in die Olimpiese padren. Foto: Getty Images

Die 25-jarige Suid-Afrikaner het vir 180 km van die ren se 234 km in ’n wegbreekgroep die pas aangegee, voordat die groot name in die peloton die pap begin dik aanmaak het om vir podiumplekke te begin onderhandel.

Die Qhubeka NextHash-jaer was een van drie Suid-Afrikaners in die padfietsren, saam met sy tydgenote Stefan de Bod (24) en Ryan Gibbons (24) en het agterna gesê dit was deel van hul plan dat een van hulle vroeg uit die bondel sou breek.

“Ons het gedink ons moet iemand vroeg in die wegbreekgroep kry, en dan kyk hoe dinge uitwerk as ons twee ander ouens in die peloton het,” het Dlamini verduidelik. “Ek was al ’n paar keer in my loopbaan in wegbreke, so ek het aan die begin van die ren my pad na die voorkant gevind en gekyk hoe ver ek kon kom.

“Dit was ’n bitter warm dag. Dit was ’n veeleisende dag, maar dis nogal spesiaal om te kan sê ek was in die wegbreekgroep van ’n Olimpiese wedren.”

Van die drietal het net De Bod uiteindelik die ren voltooi, in die 52ste plek. Hy het 11 minute en 27 sekondes ná die nuwe Olimpiese kampioen, Ecuador se Richard Carapaz, oor die eindstreep gery – in ’n groep wat onder meer die geroemde Italianer Vincenzo Nibali ingesluit het.

Richard Carapaz

Carapaz se wentyd van 6 uur, 5 minute en 26 sekondes het hom meer as ’n minuut voor die Belg Wout van Aert en Slowenië se tweemalige Tour de France-kampioen Tadej Pogacar sien eindig. Van Aert en Pogacar was die twee groot gunstelinge vir goud, maar moes eindelik met silwer en brons tevrede wees.

Ten spyte daarvan dat hy en Gibbons nie die ren voltooi het nie, het Dlamini gesê hy dink hulle kan steeds trots voel op die werk wat hulle verrig het.

“Ons is almal jonk en ’n Olimpiese ren sal altyd taai wees, veral op ’n warm dag soos hierdie. Ons almal waardeer die ondersteuning wat ons van die huis af gekry het, en dit was vir ons ’n ongelooflike dag,” het hy gesê.

Met die mans se padren iets van die verlede, verskuif die aandag nou na die vroue s’n – en daarvoor kan Suid-Afrikaners baie hoopvol naderskuif.

Ashleigh Moolman Pasio

Die 35-jarige Ashleigh Moolman Pasio sal vanoggend om 06:00 (SA tyd) aantree vir die derde Olimpiese padren van haar loopbaan – net twee weke nadat sy een van die taaiste skofte in die Giro d’Italia vir vroue gewen het, en algeheel tweede in dié glansryke fietstoer geëindig het.

Die veteraan het in haar Olimpiese debuut in 2012 16de geëindig en was in 2016 in Rio de Janeiro tiende. Verlede jaar het sy vir die eerste keer ’n wêreldkampioen geword, deur die virtuele wêreldtoernooi te wen.

Vir die groot oomblik is sy duidelik nie bang nie.

Moolman Pasio het voorverlede week gesê die tydsberekening van haar Giro-sukses was perfek.

“Dit kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. Dit is goed vir my selfvertroue en dit is ’n bewys dat my peil en voorbereiding reg is vir die uitdaging in Tokio. Dit sal my laaste Spele wees, so dit sal spesiaal wees.”

Moolman Pasio sal een van twee Suid-Afrikaners in die vroue se padfietsren wees, saam met die 34-jarige Carla Oberholzer, wat haar Olimpiese buiging maak.

’n Plek op die podium vir Moolman Pasio sal wondere vir die land doen ná ’n teleurstellende eerste Spele-dag.

Albei SA se roeispanne (in die mans-pare- en mans-viertal-kompetisies) het gister heel laaste in hul uitdunne geëindig en moes vroeg vanoggend op ’n goeie uitslag in hul onderskeie heruitdunne staatmaak om hul Spele-drome lewend te hou.

Die nasionale roei-afrigter, Roger Barrow, het gesukkel om ’n verklaring te kry vir sy roeiers se gebrek aan energie, en het selfs erken hy het nie veel hoop vir hulle nie.

Daar was ook nie goeie nuus vir Suid-Afrika in die Nippon Budokan, waar die judo-kompetisies plaasvind, nie.

Michaela Witbooi, SA se enigste judoka by die Spele, het in haar eerste geveg te staan gekom teen die 2016-kampioen, Paula Pareto, en is ná net meer as twee minute met ’n ippon verslaan.

Meer oor:  Nicholas Dlamini  |  Fietsry  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.