Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Spele dalk uitgestel, sê minister

Hoewel die reëlingskomitee van die Olimpiese Spele in Tokio tot dusver ontken het dat dié sportskouspel later vanjaar in Japan weens die Covid-19-virus in die slag kan bly, het dié land se Olimpiese minister die moontlikheid geopper dat dit wel uitgestel kan word.

Vrese vir Covid-19 duur steeds voort in die aanloop tot die Olimpiese Spele, wat vir Julie in Tokio geskeduleer is. Foto: Getty Images

Covid-19 versprei tans onverpoos wêreldwyd en het reeds tot die uit- en afstel van verskeie sportbyeenkomste in veral Asië en Europa gelei. Meer as 3 000 mense is reeds dood en oor die 90 000 bevestigde gevalle is al aangemeld.

Teen dié agtergrond sê Seiko Hasjimoto, Olimpiese minister, dat die Spele, wat veronderstel was om op 24 Julie te begin, tot later in die jaar uitgestel kan word.

“Die kontrak (met die Internasionale Olimpiese Komitee – IOK) vereis dat die Spele in 2020 moet plaasvind. Jy kan dit dus vertolk dat daar ruimte gelaat word vir die Spele om moontlik (tot ’n latere datum vanjaar) uitgestel te word,” het Hasjimoto in die Japannese parlement gesê toe sy oor die Spele gepols is.

Hasjimoto se uitspraak sal die oë laat rek aangesien die Tokio-reëlingskomitee nog Maandag gesê het planne om die byeenkoms te kanselleer is “nog nooit eens bespreek nie”.

“Maatreëls teen aansteeklike siektes vorm ’n belangrike deel van ons planne om ’n veilige Spele aan te bied,” het die komitee toe in ’n verklaring gesê.

Dick Pound, ’n senior lid van die IOK, het egter verlede week gesê as die Spele nie op die geskeduleerde datum kan plaasvind nie, is die kanse goed dat dit ook nie op ’n latere datum sal plaasvind nie weens kontraktuele, finansiële en logistieke redes.

’n Alternatief wat volgens Stephen Park, hoof van Britse fietsry, oorweeg kan word, is om die Spele agter geslote deure, oftewel sonder toeskouers, te hou, soortgelyk aan die Wêreldbeker-ski-byeenkoms, wat van 18 tot 22 Maart in Cortina, Italië, beslis gaan word.

* As die Spele wel vanjaar in die slag bly, sal dit nie die eerste keer wees nie, maar dit is nietemin iets wat sedert 1896 nog bitter selde gebeur het.

In 1916 was die Olimpiese Spele geskeduleer om in Berlyn, Duitsland, plaas te vind, maar die Eerste Wêreldoorlog het die laaste sê gehad.

In 1940 sou die einste Tokio die skouspel aangebied het, maar toe het die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ’n stokkie daarvoor gesteek. Tokio was toe eers weer in 1964 die gasheer.

Dié Tweede Wêreldoorlog het die byeenkoms in 1944 weer in die wiele gery, met Londen wat toe geskeduleer was om dit te hou. Die Spele het wel vier jaar later in Londen plaasgevind.

In 1972 het lede van die Palestynse terreurgroep Black September 11 Israeliese atlete by die Spele in München gyselaar geneem en eindelik vermoor.

Dié skokkende gebeure op 5 September van daardie jaar is deur Steven Spielberg in die 2005-rolprent Munich uitgebeeld. Die byeenkoms is toe vir 34 uur gestaak, maar het daarna voortgegaan.

In 1996 het Atlanta in die VSA die Spele aangebied. ’n Man genaamd Eric Rudolph het ’n pypbom op 27 Julie naby die Centennial Olympic Park-stadion laat ontplof, wat twee lewens geëis het en 111 mense beseer het.

Dié byeenkoms het ook voortgegaan met daardie dag se gebeure wat in die rolprent Richard Jewell, wat volgende week in Suid-Afrikaanse teaters begin draai, vertel word.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Koronavirus  |  Tokio  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.