Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Spele: Duisende atlete loop dalk seremonies mis

Byna die helfte van die duisende atlete wat vir die Olimpiese Spele op Tokio sal toesak, gaan nie hul droom kan verwesentlik om aan die opening- en afsluitingseremonies in Tokio deel te neem nie.

Wayde van Niekerk waai die Suid-Afrikaanse vlag in die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016. Foto: Getty Images

Om op die podium by die Olimpiese Spele te verskyn, is elke beroepsatleet se droom, maar vir baie ander is die voorreg om saam met hul landgenote en vlag by die opening- en afsluitingseremonie uit te stap, sekerlik ’n eer op sy eie. Nou gaan ’n groot gros atlete nie eens toegelaat word om dié seremonies by te woon nie.

Vir organiseerders bly die skouspel ’n bron van logistieke uitdagings, met moeilike besluite rakende hoe om atlete en toeskouers op die wêreld se grootste sportverhoog te verwelkom en boonop teen Covid-19 te beskerm.

Reuters berig dat die Tokio-reëlingskomitee Maandag gesê het hulle gaan die getal atlete wat die opening- en afsluitingseremonie mag bywoon aansienlik verminder.

Meer as 11 000 atlete sal na verwagting op Tokio toesak, maar veiligheidsmaatreëls wat beperkings plaas op die hoeveelheid tyd wat hulle in die atletedorp kan deurbring, sal beteken dat nie almal albei seremonies mag bywoon nie.

Atlete sal nie toegelaat word om by die atletedorp op te daag meer as vyf dae voordat hulle deelneem nie en sal boonop nie langer as twee dae mag aanbly nadat hulle hul slag gewys het nie.

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) verwag dat net sowat 6 000 atlete by die openingseremonie toegelaat sal word, met nagenoeg 5 000 wat dit nie sal kan bywoon nie.

Ons gaan voortgaan met ons voorbereiding en is daartoe verbind om streng maatreëls in plek te stel om die infeksie te bestry en ’n geleentheid aan te bied wat weer hoop en moed vir die wêreld kan bring.

“Ons glo dit is nodig om die getal deelnemers aan die opening- en afsluitingseremonies te heroorweeg en ook hoe hulle toegang tot die stadion sal verkry,” het die reëlingskomitee luidens ’n verklaring gesê.

Josjihide Soega, Japan se premier, het intussen Maandag beloof dat die land sal voortgaan met sy voorbereidings vir die Olimpiese Spele wat geskeduleer is om op 23 Julie in Tokio te begin. Stygende Covid-19-infeksies plaas tans groot druk op die organiseerders en die regering om die byeenkoms weer uit te stel of selfs geheel en al af te las.

Soega is hieroor gepols nadat Taro Kono, sy minister vir administratiewe hervorming, verlede week gesê het dat die skouspel dalk nie sal voortgaan soos wat beplan word nie. Hiermee het Kono die eerste kabinetslid geword om openlik dié moontlikheid te noem.

Kono se kommentaar het verdere ammunisie aan plaaslike inwoners gegee nadat 80% van Japannese wat aan ’n meningspeiling deelgeneem het oor of die Tokio-Spele moet voortgaan, aangedui het dat dit eerder uitgestel of gekanselleer moet word.

“Ons gaan voortgaan met ons voorbereiding en is daartoe verbind om streng maatreëls in plek te stel om die infeksie te bestry en ’n geleentheid aan te bied wat weer hoop en moed vir die wêreld kan bring,” het Soega in die parlement gesê.

Ofskoon Japan se infeksiesyfers beter as baie ander lande s’n lyk, het die onlangse styging daartoe gelei dat die land sy grense vir buitelanders gesluit het wat nie in Japan woon nie. ’n Noodtoestand is ook in Tokio en ander groot stede verklaar.

Voorheen het buitelandse atlete die vergunning gekry om steeds in Tokio te mag oefen in die aanloop tot die Spele, maar met die noodtoestand is dié kwytskelding ook opgeskort.

Ondersteuning van die publiek vir Soega het onlangs begin kwyn met kritici wat die regering se hantering van die pandemie as “te stadig” en “wisselvallig” beskryf.

Soega se kommentaar beaam egter wat Thomas Bach, president van die IOK, onlangs gesê het.

Bach het gesê dat die Spele as “ ’n lig aan die einde van die tonnel” kan dien in die stryd teen die pandemie.

Meer oor:  Tokio  |  Tokio-Spele  |  Iok  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.