Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Hoog en droog, of gaan Dry Tokio toe?

Indien die Blitsbok Chris Dry weer nie die paal haal om sy land in 2021 by die Olimpiese Spele te verteenwoordig nie, sal hy vrede in sy hart hê.

Die strydros Chris Dry glo die Olimpiese Spele in 2021 is binne sy bereik. Foto: Gallo Images

Op 32-jarige ouderdom en 74 toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks agter die blad, is Dry een van die mees ervare Suid-Afrikaanse sewesspelers van alle tye.

Weens die Covid-19-pandemie is die Spele, wat vanjaar in Tokio beslis moes word, tot 2021 toe uitgestel.

Vir spelers soos Dry en Cecil Afrika (32), wat reeds die einde van hul loopbane nader, sal dit moontlik net ’n jaar te ver wees. Gegewe die eise van dié formaat, is spelers se beste jare gewoonlik reeds verby wanneer hulle hul 30’s bereik.

“Die feit dat die Spele uitgestel is, dink ek is goed vir my. Dit gee my ’n ekstra jaar se voorbereiding. Ek voel nog fiks en dat ek nog baie mededingend kan wees.

“Ek dink elke jaar ná my groot besering (’n kniebesering in die 2017/’18-seisoen) wat ek op die veld is, voel ek beter en beter. Hopelik sal dit volgende jaar ook so wees,” sê Dry, ’n voorspeler.

Dit is seker te verstane dat daar ’n dringendheid by hom is om gekies te word. Tydens die vorige Spele, in 2016 in Rio de Janeiro waar Suid-Afrika die bronsmedalje gewen het, was Dry ’n plaasvervanger. Dít het beteken dat hy nie saam met die span gebly het nie en ook nie ’n medalje gekry het nie.

“Jy wil na ’n Olimpiese Spele gaan en jy wil speel. Dit is my mikpunt en as dit nie gebeur nie, weet ek ek het my beste gegee. Dan los ek dit daar.

“Die Spele is nog ver. Ek dink dit sal my fokus wees. Elke geleentheid wat ek kry om te speel, is ’n seën. As dit nie gebeur nie, gebeur dit nie,” sê Dry, wat tans in die Karoo is.

“Ek is baie bevoorreg dat ek op ’n plaas is (tydens die staat van inperking), hier is baie spasie en ek het baie dinge om te doen.

“Ek kan ordentlik oefen en is darem nie in ’n klein spasie vasgedruk nie. Ek werk (plaaswerk), so ek is baie besig, iets wat aangenaam is.”

Daar wag kopkrap op Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke. Foto: Gallo Images
Christie Grobbelaar klop hard aan die Blitsbok-deur. Foto: Gallo Images

Daar wag straks ’n paar moeilike besluite op Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, en die res van die ringkoppe by die nasionale span. Die laaste vier toernooie van hierdie seisoen se reeks, in Engeland, Frankryk, Singapoer en Hongkong, is weens die koronavirus uitgestel tot September en Oktober.

Dit kan selfs gebeur dat daardie toernooie afgestel word, wat aan spelers soos Dry en Afrika geen kans gaan bied om Powell-hulle te oortuig dat hy hulle wel moet kontrakteer vir aanstaande seisoen nie.

Voeg daarby die aanspraak van ’n belowende jongeling soos die voorspeler Christie Grobbelaar, wat nie veel langer geïgnoreer kan word nie en jy weet hoekom Powell in die komende maande die wysheid van ’n Salomo gaan nodig hê.

Meer oor:  Chris Dry  |  Neil Powell  |  Blitsbokke  |  Sewes  |  Olimpiese Spele  |  Tokio Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.