Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Spiesgooiers se laaste kans vir Tokio-plek

Die Suid-Afrikaanse spiesgooier Jo-Ané van Dyk tree Saterdag in Finland aan, waar sy ’n laaste poging sal aanwend om vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

Dinsdag is die spertyd vir deelnemers aan atletiek om te voldoen aan Wêreldatletiek se kwalifiseringsvereistes vir die Tokio-Spele.

Jo-Ané van Dyk neem Saterdag in Finland deel aan die spiesgooi in ’n laaste poging om vir die Tokio-Spele te probeer kwalifiseer. Foto: Gallo Images

Dit beteken dat talle atlete, onder wie Van Dyk en die silwermedaljewenner by 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Sunette Viljoen, nog net een kans het om hul kaartjies vir die vlug na Japan volgende maand te bespreek.

Van Dyk is op die deelnemerslys by die Kuortane-Spele. Sy en die Australiër Kelsey-Lee Barber sal die enigste buitelanders in die spiesgooi vir vroue wees, met al nege die ander deelnemers wat plaaslike atlete is.

Van Dyk het verlede week vir die eerste keer in haar loopbaan die spies verder as 60 m laat trek toe sy met 1,72 m haar vorige beste van 59,47 m, wat sy in April opgestel het, verbeter het. Sy het by ’n byeenkoms in die Tsjeggiese Republiek die maatband tot 61,19 m laat rek.

Sy sal in Kuortane aantree as die atleet met die beste afstand tot dusver vanjaar, met Barber naasbeste (61,09 m).

Viljoen sukkel op haar beurt om weer haar beste peil te vind. Sy het in Februarie by ’n ligabyeenkoms in Potchefstroom ’n afstand van 60,60 m behaal, maar in Junie kon sy nog net met ’n beste gooi van 57,66 m slaag – hoewel dit vermag is nadat sy vir sewe weke buite aksie was.

Sy het vyf jaar gelede in Rio de Janeiro met ’n gooi van 64,92 m die silwermedalje verower.

Destyds was ’n afstand van 62 m genoeg om ’n plek by die Spele te verseker, maar vir vanjaar se skouspel is die vereiste ’n uitdagende 64 m.

Viljoen sal ook vir oulaas op eie bodem ’n aanslag loods en waarskynlik weer in Potchefstroom aantree. – Sportredaksie

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Sunette Viljoen  |  Spiesgooi  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.