Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Storm steek dalk stokkie voor Bianca

Die Victoriabaai-boorling Bianca Buitendag het geweet sy gaan by die Olimpiese Spele in Tokio deel wees van ’n geskiedkundige gebeurtenis – maar nou kan Moeder Natuur die storie wat sy eendag vir haar kleinkinders vertel dalk selfs sappiger maak.

Bianca Buitendag se Olimpiese buiging sal ook die swanesang van haar loopbaan wees. Foto: Getty Images

Buitendag hoop om Sondagoggend deel te wees van die eerste branderplank-kompetisie in die geskiedenis van die Olimpiese Spele, maar het ook Saterdag gesê sy is nie seker of haar buiging wel dan wag nie.

Asof die Tokio-organiseerders nie reeds genoeg hooi op hul vurk het nie, is daar nou ook ’n tropiese storm genaamd Nepartak suid van die Japanse hoofstad – en niemand kan voorspel waar dit teen Sondag gaan trek nie.

“Daar is ’n klein sikloon wat volgens die voorspellings naby aan ons gaan kom, maar dis moeilik om te sê hoe naby,” het Buitendag Saterdag gesê.

“As dit nie te naby kom nie, kan dit dalk vir gunstiger toestande sorg (omdat die golwe by die Tsurigasaki-strand dan groter sal wees as wat vooraf verwag is), maar as die oog ons tref, sal ons in stormsterkwinde wees en nie kan deelneem nie.

“Ons sal almal al sewe-uur (Sondagoggend, Tokio-tyd) op die strand wees om te hoor of ons kan voortgaan, en hulle sal tot twaalfuur hê om daaroor te besluit. As dit nodig is, sal alles uitgestel word tot die volgende dag.”

Daar is geen sweem van kommer in Buitendag se stem dat haar Olimpiese kans dalk heeltemal weggewaai sal word deur Nepartak nie. Dis natuurlik nie iets waaraan enige van die branderplankryers in die Olimpiese program veel sal wil dink nie – en minder nog iemand soos Buitendag, wat van plan is om die professionele toer ná die Spele vaarwel toe te roep.

“Hierdie sal my laaste byeenkoms as ’n beroepsbranderplankryer wees,” het sy vroeër vandeesweek gesê. “Ek het ’n wonderlike tyd gehad en hierdie is die perfekte manier om my loopbaan af te sluit. Ek is 27 en reg in die middel van die ouderdomspektrum. Daar is 13 vroue op die wêreldtoer en net drie is ouer as 30.

“Ek het oorgenoeg gehad van deur lughawens reis en uit ’n tas lewe. Die Covid-inperking het my laat besef hoe belangrik die huis is, en ek is reg om nou wortel te skiet.”

Voor dan wil sy egter vir oulaas herinneringe maak op die golwe van Tokio. Hoe groot daai golwe gaan wees, is vir nou ’n raaisel – en hoe ver sy in die kompetisie sal kom, is ook moeilik om te voorspel.

Maar vir Buitendag is dit reeds wonderlik genoeg dat sy vir oulaas haar grootste passie sal kan uitleef.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Branderplankry  |  Sikloon  |  Tokio-Spele  |  Tokio 2020  |  Bianca Buitendag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.