Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Bencic haal 2 Spele-eindstryde

Belinda Bencic van Switserland, ’n voormalige junior wêreldkampioen, het Donderdag ná vier uur en 19 minute op die tennisbaan twee eindstryde in Tokio gehaal.

Bencic is sedert tennis se terugkeer tot die Spele in 1988 die vyfde speler ná Serena en Venus Williams, Andy Murray en Nicolas Massu om in twee eindstryde in dieselfde Spele te speel.

Belinda Bencic van Switserland in haar Olimpiese halfeindstryd teen Elena Rybakina van Kasakstan. Foto: Getty Images

Bencic (24), wat aan haar eerste Spele deelneem, het eers Kasakstan se Elena Rybakina in ’n uitmergelende stryd van byna drie uur – waarin sy in versengende hitte terugbaklei het – met 7-6(2), 4-6, 6-3 in die halfeindronde geklop.

Sy en Viktorija Golubic het daarna in die dubbelspel-halfeindstryd die Brasiliaanse paar Laura Pigossi en Luisa Stefani met 7-5, 6-3 verslaan.

Bencic het met haar sege oor Rybakina seker gemaak dat Switserland vir die vierde agtereenvolgende Spele van ’n medalje verseker is.

Roger Federer en Stan Wawrinka het in 2008 goud in die dubbelspel gewen, Federer het silwer in 2012 in die enkelspel gewen en Martina Hingis en Timea Bacsinszky silwer in die dubbelspel in 2016.

Bencic het nie ’n wafferse jaar beleef nie, hoewel sy in Junie in Berlyn ’n eindstryd gehaal het. Sy was ook aan die begin van die jaar in Adelaide in ’n eindstryd in aksie.

Bencic sal hoop sy kan haar gesukkel met haar afslane voor die eindstryd uitstryk. Sy het Donderdag 12 dubbelfoute begaan.

Dít het Rybakina toegelaat om met 5-2 in die eerste stel voor te loop.

Die 9de gekeurde Bencic wou nie bes gee nie. Sy het ses stelpunte afgeweer om die eerste stel uiteindelik ná 73 minute met ’n valbylstyd te wen.

Bencic se kleitrappery met haar afslane het Rybakina, wat ook vyf kishoue in die tweede stel gemoker het, egter toegelaat om die wedstryd tot ’n derde stel te verleng.

Rybakina het in die beslissende stel twee keer deurgebreek op Bencic se afslaan, maar die Switser het vasgebyt om Switserland weer van ’n medalje op die tennisbaan te verseker.

Die trane het gevloei ná haar skitterende terugvegpoging van twee uur en 44 minute.

Rybakina het 14 kishoue geslaan, maar sal die feit betreur dat sy net ses van haar 16 breekpunte benut het.

Bencic-hulle was in die dubbelspelstryd met 0-4 agter in die eerste stel, maar het herstel om dit te beklink en die wedstryd in ’n uur en 35 minute te wen.

Bencic gaan nou in die grootste wedstryd van haar loopbaan in die enkelspel-eindstryd teen die Tsjeg Marketa Vondrousova speel, wat Oekraïne se Elina Svitolina getroef het.

Sy en Golubic speel in die dubbelspel-eindstryd teen die eerste geskeurde Tsjeggiese paar Barbora Krejcikovan en

Katerina Siniakova. – Sportredaksie, olympics.com, foxnews.com.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tennis  |  Tokio-Spele  |  Belinda Bencic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.