Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
'Ek het nie gedink ek sal só vinnig wees'

Skuif reg, Suid-Afrika – want die mooipraatjies oor Tatjana Schoenmaker se potensiaal in vanjaar se Olimpiese Spele is nie meer aanmekaar gegom met blindelingse hoop en goeie wense nie.

Sjoe, is daai regtig my tyd? Tatjana Schoenmaker was heeltemal verstom nadat sy Sondagmiddag in die Olimpiese Spele byna ’n sekonde van een van haar Afrika-rekords gesny het. Foto: Getty Images

Dis nou bedraad met ’n Olimpiese en Afrika-rekord, in ’n item waarin sy vooraf haar verwagtinge laag gehou het.

Die 24-jarige Pretorianer het Sondagmiddag in die uitdunne van die 100 m-borsslag gewys haar teenstanders sal haar oor die komende dae baie fyn moet dophou, toe sy haar eie Afrika-rekord in dié item aan flarde geswem het.

Schoenmaker het ’n skittertyd van 1 minuut en 4.82 sekondes opgestel om die uitdunne as die vinnigste kwalifiseerder af te sluit. Dit was ’n tyd wat nie net die oë om haar laat rek het nie, maar ook haar eie. Schoenmaker se verbasing was duidelik op haar gesig te sien.

En met goeie rede het dit gelyk of sy nie glo wat sy sien nie. Die tyd het nie net die vorige Olimpiese rekord met elf honderdstes van ’n sekonde oortref nie, maar is ook byna ’n sekonde vinniger as Schoenmaker se vorige beste tyd van 1:05.74.

“Ek het regtig nie dit verwag nie,” het sy kort ná haar rekordvertoning gesê.

“Dit was my eerste resies van die Spele, so ek het van die begin af hard geswem met die idee dat ek moet begin om my spoed op te bou. Maar ek het regtig nie gedink ek sal só vinnig wees nie. Ek is altyd ’n bietjie beter in die 200, so hierdie was vir my ’n baie goeie swem – ’n groot verrassing.”

Schoenmaker was die afgelope 23 maande die vinnigste vrou in die wêreld in die 200-borsslag en word wyd en syd daarin as ’n medalje-aanspraakmaker beskou. Haar blitstyd Sondag plaas haar naam vanselfsprekend nou ook in die 100 in daardie soort gesprekke, maar sy het geweier om so kort ná haar uitdun al so ver te dink.

“Ons het die wêreld se heel beste hier, en al het (die vorige Olimpiese rekordhouer Lilly King) nie vandag haar beste tyd geswem nie, lyk sy goed. Die 100 is nie my beste item nie, so ek is net opgewonde daaroor dat ek (Maandag) kan swem teen ongelooflike swemmers teen wie ek nie vandag het nie. En dan hoop ek maak ek die eindronde,” sê sy.

Schoenmaker het ook gesê sy besef daar is hoë verwagtinge van haar in Suid-Afrika, maar dat sy nie te veel daaraan dink nie.

“Ek fokus nie daarop nie, ek is net hier om my beste te gee. Ek weet mense raak opgewonde oor wat ek dalk kan doen, en dis oukei, maar vir my is die belangrikste om my beste tye op te stel.

“Nou het ek dit alreeds gedoen, so dis van my skouers. Ek is baie bly daaroor,” het sy met ’n breë glimlag gesê.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.